(Stefanie) Oud-Bok op sy fiets geskiet Woensdag 23 Oktober - TopicsExpress



          

(Stefanie) Oud-Bok op sy fiets geskiet Woensdag 23 Oktober 2013 ’n Oud-Springbok-atleet is bly hy leef nog nadat rowers hom geskiet het terwyl hy in Garsfonteinweg in die ooste van Pretoria fiets gery het. Michael McDermott, ’n bergwedloop-spesialis, het Maandag net ná 18:00 van Mooikloof in die rigting van Woodlands gery toe ’n man langs die pad op hom geskiet het. “ ’n Koeël het my in die linkerboarm getref en ek het van my fiets afgeval. Die rower het na my gehardloop en die geweer in my gesig gedruk. McDermott het met sy hand probeer keer. Toe hy ’n lig sien flits, het hy gedog hy gaan dood. “Ek weet nie of hy gemis het en of die geweer nie afgegaan het nie, maar hy en nog ’n rower het my fiets gegryp en met die bult op gehardloop.” Motoriste het nie stilgehou nie en hy moes in die verkeer inhardloop om hulp te kry. “Ek bewe nou nog as ek daaraan dink.” McDermott is die vierde fietsryer in ’n bietjie meer as ’n week wat in die ooste van Pretoria aangeval is. Daniel Newman, ’n gereelde fietsryer, het verlede Donderdag ’n koeël dwarsdeur sy valhelm gekry toe hy en ’n vriend in dieselfde straat fiets gery het. “As die koeël 2 mm laer getref het, was dit in my kop,” het Newman gesê. Shawn van der Merwe, voorsitter van die fietsryklub Parkview Night Riders, het die getal aanvalle op fietsryers wat die laaste tyd aangemeld is, kwel hulle. “Dat dit helder oordag gebeur, is veral kommerwekkend.” Volgens ao. Dave Muller, polisiewoordvoerder, is fietsryers sagte teikens. “Die omgewing tussen Mooikloof en Woodhill is verlate en voornemende diewe weet die fietse is baie werd.” Muller het fietsryers gemaan om waaksaam te wees en alle aanvalle so gou moontlik aan te meld. “Ons kan dit nie as ’n prioriteitsmisdaad klassifiseer as fietsryers aanvalle nie rapporteer nie.”
Posted on: Wed, 23 Oct 2013 17:29:07 +0000

Recently Viewed Topics



1.

© 2015