Winter slaan uiteindelik sy yskoue kloue in Beeld FANIE VAN - TopicsExpress



          

Winter slaan uiteindelik sy yskoue kloue in Beeld FANIE VAN ROOYEN Dinsdag 06 Augustus 2013 Ná ’n “ongewoon matige winter” gaan ’n sterk kouefront sy kloue vandeesweek in groot dele van die land inslaan en Gautengers sal dit van Donderdagaand af trotseer. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het gister gesê ’n beduidende kouefront sal vandag in die suidwes-Kaapland aan wal kom. Dit sal vandag koue, nat en winderige toestande na die Wes-Kaap en van môre af na die Oos-Kaap bring voordat dit oor die binneland sal inbeweeg. Swaar neerslae (meer as 50 mm in 24 uur) word van vandag af aan die Kaapse suidkus en aangrensende binneland verwag. Sneeuval word môreoggend oor die suidwestelike berge van die Wes- en die Noord-Kaap verwag en dit sal teen Donderdag tot by Lesotho versprei. Edwin Thema, weervoorspeller van die SAWD, het gesê die kouefront, wat met ’n bolug-trogstelsel verbind word, sal môre verder noordooswaarts beweeg en Gautengers oormôreaand en veral Vrydag laat bibber. “Dit is ’n sterk front wat temperature beduidend sal laat daal,” het Thema gesê. In Gauteng word minimum temperature van tot onder vriespunt en maksimum temperature van rondom 13 ºC tot 16 ºC Vrydag verwag. “Die kouefront sal beduidende reëns na die Wes- en die Oos-Kaap bring en Donderdag en Vrydag ook reënbuie oor Mpumalanga en KwaZulu-Natal veroorsaak, maar die kans lyk skraal dat dit reën na Gauteng sal bring,” het Thema gesê. Daar word Donderdag en Vrydag ’n 30%-kans op reën in Gauteng en ’n 60%-kans op reën in Mpumalanga en KwaZulu-Natal voorspel. Dit sal volgens Thema Vrydag en Saterdag bitterlik koud wees op die Mpumalanga-hoëveld (veral in die omgewing van Ermelo). Limpopo en Noordwes sal nie deur die kouefront geaffekteer word nie en sonnige, warm weer word vandeesweek daar voorspel. Teen Saterdag sal dit nog in Gauteng en dele van Mpumalanga koud wees. “Van Sondag af sal temperature na verwagting al beduidend herstel het,” het Thema gesê.
Posted on: Tue, 06 Aug 2013 09:01:27 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015