Allister krapperig oor vlagmanne STEPHEN NELL Die Burger KAAPSTAD. - TopicsExpress



          

Allister krapperig oor vlagmanne STEPHEN NELL Die Burger KAAPSTAD. – As jy met ’n vlag in jou hand langs die kantlyn van die rugbyveld staan, sal die Westelike Provinsie se afrigter, Allister Coetzee, dit waardeer as jy nie ’n eiertjie te lê het oor wat in die skrums aangaan nie. “Dit raak frustrerend wanneer assistent-skeidsregters die skeidsregter probeer bystaan deur sy aandag op beuselagtighede te vestig,” het Coetzee vandeesweek gesê. Die skrums is opnuut in die kollig met die toepassing van die nuwe roep van “crouch, bind, set” en wat daarmee gepaardgaan. Terwyl die WP die afgelope naweek teen Griekwas in Kimberley swaar geleef het in die skrums, meen die Kapenaars die fout lê nie noodwendig net by hulle nie. “Daar was ’n geval van ’n assistent-skeidsregter wat ’n aanbeveling aan die skeidsregter gemaak het, maar 50 meter weg van die skrum af was. Ek weet nie hóé hulle só goed kan sien nie,” het Coetzee gesê. “Dit beïnvloed die skeidsregter en plaas baie druk op hom. Die skeidsregter moet die kans gegun word om dit self uit te sorteer.” Coetzee is bly dat Jaco Peyper in môreaand se wedstryd teen die Leeus op Ellispark in Johannesburg die fluitjie gaan dra. Sieg van Staden en Jaco van Heerden sal hom bystaan. “Jaco is ’n ervare en goeie skeidsregter. Hy behoort opgewasse te wees om die stryd in die skrums reg te beslis,” het Coetzee gesê. Die WP se kaptein, Deon Fourie, wil ook sien dat daar konsekwentheid met die voer van die bal is. “Sommige skeidsregters laat toe dat die bal vinnig inkom, terwyl ander die skrum eers staties wil hê. Dis iets waarna gekyk moet word om ’n gelyke speelveld te vestig,” het Fourie gesê. Die WP het vandeesweek hard aan sy skrums gewerk en sy voorspeler-afrigter, Matt Proudfoot, was tussendeur op die foon na die blaser Mark Lawrence. Hy het ook konsekwentheid bepleit vir beslissings wanneer die bal skeef ingegooi word by skrums. “As daar geblaas word vir een skewe ingooi, moet dit elke ander een geld,” het hy gesê. * Intussen kan daar môre ’n hewige tweestryd tussen die Springbok-stutte CJ van der Linde en Pat Cilliers in die voorry woed. “CJ het al 75 toetse vir Suid-Afrika gespeel en was baie goed van die Leeus se plaasvervangersbank. Hulle het dit redelik duidelik gemaak waar hulle beplan om ons aan te val,” sê Proudfoot. “Dit gaan ook ’n uitdaging wees teen Franco van der Merwe (Leeus-slot) in die lynstane.”
Posted on: Wed, 28 Aug 2013 22:15:11 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015