BLOU WILLEM Voorrymanne moet mos nie lenig wees - TopicsExpress



          

BLOU WILLEM Voorrymanne moet mos nie lenig wees nie! Blouwillemaandag Beeld Watse onnodige bohaai en lawaai is dit oor ons blinkronde Springbok-voorryman Trevor se gewig (ou Jan Grobbies noem hom Kaunda, want hy lyk mos op ’n haar soos ’n jonger weergawe van Zambië se oom Kenny). Nee wat, waar’s die dae toe oom Toy, Paal Pretorius en ou Frik-hulle nog so teen halftwee op ’n Saterdagmiddag voor ’n provinsiale wedstryd opgewarm het met ’n volle kilogram T-been, tjips en ’n melkskommel. Vir krag, so het hulle geglo, maar gelukkig was die teenstanders gewoonlik net so dik gevreet. In ons tyd het die energiedrankie wat oom Sakkie van Zyl ons ingejaag het bestaan uit ’n mengsel van suiker, melk en brandewyn. Die suiker vir energie, die melk vir krag en die brandewyn om idees te kry oor wat om met al jou krag en energie te maak, het dié ou Bokvoorryman verduidelik. Hoekom op die liewe aarde, wonder ons, moet ’n loskopvoorryman nou eintlik slank en lenig wees? Hy dans mos nie in broekiekouse en ’n toetoe die hoofrol in Swan Lake nie, of hoe? Ek het verlede jaar hier in Tshwanetoria voor ’n Cheetah-Bul-wedstryd daar in ’n hotel sit en kyk met hoeveel konsentrasie en erns Coenie Oosthuizen ’n buffetontbyt benader. Stoksielalleen op ’n Saterdagoggend en met daai selfde frons waarmee hy speel, want hoe anders gaan hy krag vir sy groot taak kry? So sit hy daar en konsentreer oor ’n berg ontbyt (wat definitief nie net uit vruggies en beertjiepap bestaan het nie) en daai middag speel hy ’n hond uit ’n bos uit. Ag nee wat, as eet ’n Springbok se grootste sonde is, is dit darem nou nie die begin van die Derde Wêreldoorlog nie, of hoe, Heymlike? O ja, en die rede waarom Kaunda laat was vir daai vlug? Hy’s mos maar net bietjie loskop, man! Nadat onse president Jacob laas Saterdag nie saam met al die ander hogeres by die Madiba-fees in Soweto opgedaag het nie, reken oom Johnny hulle kan dalk ’n kinderboekie oor die man uitgee. Soos daai Waar is Otto?-boekies waarmee ons kindertjies grootgeword het waar jy prentjies moet oopvou en vra: “Is Otto agter die bank?” “Nee, Otto is nie agter die bank nie” “Is Otto in die wasgoedmandjie?” “Nee, Otto is nie in die wasgoedmandjie nie”, ensovoorts totdat Otto uiteindelik gevind word. En die 2013-weergawe: “Waar is vader Jakob?” “Is hy dalk in die Demoniese Republiek van die Kongo?” “Is hy by prins Gallie se doop?”, “Speel hy gholf saam met Milk Shaik?” Siestog, ons moet seker deernis hê, want as jý vier vrouens gehad het, ’n swetterjoel kinders se skoolsports moes bywoon en beeste moes dip, was jy ook nie Saterdae by die rugby nie. Dik Daan sê met al hierdie erge stories van kindermolesteerders wat op pad uit en tronk toe is, is hy ook maar bly dat hy nog in die goeie, onskuldige tye grootgeword het toe ons nog ons eie suigstokkies kon gekoop het.
Posted on: Mon, 26 Aug 2013 06:52:05 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015