Boos oor hul ‘gratis’ boeke RUDOLF STEHLE Dinsdag 25 Junie - TopicsExpress



          

Boos oor hul ‘gratis’ boeke RUDOLF STEHLE Dinsdag 25 Junie 2013 ‹› Die Afrikaanse uitgewersbedryf is in rep en roer nadat dit aan die lig gekom het dat drie Afrikaanse skrywers die slagoffers geword het van ’n Facebook-slenter waarmee hul e-boeke onwettig versprei word. Die skrywers wat deurgeloop het, is Leon van Nierop, Chanette Paul en Ilse Salzwedel. Die Suid-Afrikaanse Federasie teen Kopieregdiefstal (Safact) beoog om ’n klag teen drie individue in te dien in verband met die skending van kopiereg op dié skrywers se e-boeke. “Die ondersoek is voltooi en genoeg bewyse van kopieregdiefstal is ingesamel vir optrede teen drie individue, maar geen klagte is nog ingedien nie. Ons verwag om dit binne twee dae te doen,” het Corné Guldenpfennig, uitvoerende hoof van Safact, gister gesê. Volgens Izak de Vries, promosiekoördineerder van fiksie by Lapa, het Rozanne Kotzee hulle op 20 Mei deur Facebook gekontak en die uitgewer laat weet Van Nierop se roman Snydokter word op ’n Facebook-groep beskikbaar gestel. De Vries en Monique Bisschoff het toe by dié groep aangesluit. Kotzee en Bischoff figureer albei onder hul eie name as karakters in Van Nierop se Snydokter. “Monique ken vir Leon en was ontsteld hieroor,” sê De Vries. “Sy het toe met die persoon in beheer van die Facebook-blad gekorrespondeer,” vertel De Vries. Bisschoff het vasgestel dat die persoon R150 vra en dan ’n geheuestokkie met ’n groot aantal e-boeke pos aan mense wat die geld in ’n bankrekening inbetaal. Die persoon stuur ook PDF-weergawes van boeke per epos. “Monique het later daardie middag, minder as 12 uur nadat sy aangesluit het, ’n PDF-kopie van Snydokter per epos ontvang.” De Vries het op 24 Mei ook bewyse gekry dat dié persoon Chanette Paul se liefdesroman Fleur versprei. Van Nierop het by navraag gesê hy is baie vies. “Afrikaanse skrywers het reeds so ’n klein mark. Nou word daardie mark nog kleiner omdat die bietjie geld wat ’n skrywer nog uit sy boeke maak, ook nou daarmee heen is. “Ek het ook intussen gehoor dat iemand Wolwedans in die skemer só op Facebook gekry het. Dis ’n skande.” Paul het gesê dié daad is “suiwer diefstal”. “Dis laakbaar. Mense wat hulle hieraan skuldig maak, moet tronk toe gaan.” “Onkunde is nie ’n verskoning nie,” het sy bygevoeg. Salzwedel vertel ’n vriendin het haar op 15 Junie laat weet dat haar e-boek Bloedsusters gratis op ’n Facebook-groep weggegee word. “Maats, ek gaan probeer om elke maand ’n boek aan julle voor te stel. Dan kan diegene wat belang stel in die boek net jul e-mail los en ek stuur dit vir julle aan. Gratis. Hierdie maand is dit Bloedsusters,” lui ’n inskrywing deur die stigter van dié Facebook-groep. Salzwedel sê dit was ’n nare verrasssing. “Ek kon nie glo mense doen sulke goed op Facebook nie – ’n mens verwag mense sal skaam kry oor so iets, maar blykbaar nie. “Daar was 168 antwoorde op haar inskrywing van mense wat hul eposadresse gelos het om die boek gratis te ontvang,” sê Salzwedel. “My Facebook-vriendin het genoem haar gratis kopie was letterlik binne ’n minuut of twee nadat sy haar eposadres gepost het, in haar epos-inboks.” Volgens Guldenpfennig is die Lapa-geval die eerste van e-boekdiefstal waarmee Safact te doen kry. Volgens haar verskuif kopieregmisdrywe toenemend na sosiale platforms en die internet. Dit stel besondere uitdagings aan die ondersoekers, sê sy. “Die uitdaging lê by die korrekte insameling van inligting binne die perke van die Grondwet en die strafproseswet sodat die inligting skoon en toelaatbaar in ’n hof sal staan. “Dit is ’n uitdaging om iemand in die kuberruimte te ondersoek en te vind sonder om privaatheidskending te pleeg. ’n Mens kan basies net inligting gebruik wat deur die persoon of entiteit self openbaar gemaak word.” Ofskoon die internet en sosiale platforms ’n betreklik nuwe gebied vir wetstoepassers is, is Safact se internetspan, die polisie-eenhede wat met internetboewe werk en die aanklaers opgewasse vir dié soort sake, sê Guldenpfennig. ... Feite oor Safact Die Suid-Afrikaanse Federasie teen Kopieregdiefstal (Safact) is ’n maatskappy sonder winsbejag wat hom dit ten doel stel om die kopiereg van sy lede te beskerm deur inligting van beweerde kopieregskending op te volg, bewysstukke van skending in te samel en dan klagte namens die betrokke eienaars by die handelsmisdaadeenheid van die polisie in te dien. Lapa is ’n lid van Safact.
Posted on: Tue, 25 Jun 2013 02:51:46 +0000

Trending Topics



">Después te cuento Cuando yo era chico –hace mucho,
Budget 2012 (5) – On Defence Spending 2012 FEBRUARY 17 by
Premier League: Top 10 biggest transfer fees 10. Edin Dzeko |

Recently Viewed Topics




© 2015