ELISE TEMPELHOFF Die wêreld om ons: Mapungubwe kan ook beland op - TopicsExpress



          

ELISE TEMPELHOFF Die wêreld om ons: Mapungubwe kan ook beland op skandmuur : Beeld Die Wêrelderfeniskomitee van Unesco kyk tans in Kambodja deur ’n vergrootglas na die bewaringstatus van die 964 wêrelderfenisgebiede. Harde woorde het in die afgelope week reeds geval oor bedreigings by Mapungubwe, maar veral oor die Groot Koraalrif noordoos van Australië. Die Groot Koraalrif word bedreig deur Australië se planne om Queensland, die deel van die land wat die naaste aan die koraalrif is, te industrialiseer. Australië wil ook die grootste hawe vir steenkooluitvoer hier bou. Die Wêrelderfeniskomitee het vandeesweek in ’n ultimatum aan Australië gesê die regering moet ander planne maak, of die naam van die Groot Koraalrif word op die skandmuur geskryf. Dit beteken dié natuurwonder se bewaringstatus word bedreig en sy naam word verwyder van die lys van wêrelderfenisgebiede. Australië het nou ’n jaar tyd om ’n behoorlike bestuursprogram vir die Groot Koraalrif aan die komitee voor te lê en sy nywerheidsplanne drasties af te skaal. Intussen het bewaringsorganisasies ’n aggressiewe veldtog op Facebook en Twitter begin om die wêreld se aandag te vestig op die bedreigings wat grootskeepse industrialisering van die noordooste van Australië op die Groot Koraalrif gaan hê. Een van die twiets lui: Australië moet nou kies tussen geld en bewaring. Dit laat ’n mens onwillekeurig terugdink aan die groot stryd wat in 2010 in Suid-Afrika begin is deur ’n koalisie van nie-regeringsorganisasies wat Vele, Coal of Africa (CoAL) se steenkoolmyn, destyds by Mapungubwe wou stop. Die koalisie het dit destyds reggekry om Vele tien maande lank tot stilstand te dwing. Hulle wou selfs ’n hofsaak maak om CoAL daar weg te kry, maar het nooit sover gekom nie. Buitendien was die regering ook nie aan die bewaarders se kant nie. Trouens dit raak al hoe duideliker dat die Suid-Afrikaanse regering nie bewaringsbewus is nie. ’n Mens lees en hoor tussen die lyne dat die regering groot planne het om die droë Limpopo-kom te industrialiseer. Al wat ’n mynhuis is, lek sy lippe af vir die dik lae kookssteenkool wat in die kom lê, maar wat tot dusver in die grond gebly het weens ’n ernstige gebrek aan water. Die ou Yscor wou hier myn en Rio Tinto ook, maar hulle het hul planne juis weens die watergebrek laat vaar. Yskor het wel Tshikondeni naby die wildtuin begin, maar dié myn se lewe is so te sê verby en Rio Tinto het getrek na Mosambiek se Tete-provinsie, waar 1 400 huisgesinne ontruim is en nou van kospakkies vir oorlewing afhanklik is. Dit sal interessant wees om die veldtog teen die industrialisering van die noordooste van Australië dop te hou. Dalk kan ons hoe om sulke veldtogte met welslae te voer en kan ons Mapungubwe dalk as wêrelderfenisgebied behou. As ons dit nie regkry nie, sal sy naam dalk ook op die skandmuur geskryf moet word.
Posted on: Sat, 22 Jun 2013 09:54:39 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015