FERDI GREYLING Rubriek: DNS-toetse kan eise beduiwel Beeld 25 - TopicsExpress



          

FERDI GREYLING Rubriek: DNS-toetse kan eise beduiwel Beeld 25 Junie 2013 Dit was teleurstellend om die afgelope week in die media te lees dat mense wat destyds uit hul huise in Distrik Ses in die Kaap geskop is, steeds nie hul eiendom teruggekry of vergoeding daarvoor gekry het nie. In die (regmatige) protes teen die sloer van die regstelling het die gebruiklike genetiese en wye aansprake ook opgeklink. In dié geval van mense wat hulself breedweg bestempel as nasate van die Khoisan, afstammelinge van mense wat volgens die geskiedenis lank gelede op ’n deel van die grond gewoon het. In ’n ander ontwikkeling beplan die regering om grondeise weer oop te stel vir mense wat in die apartheidstyd van hul grond verwyder is en om eise verder terug as 1913 toe te laat. Die afsnytyd van 1913 is waarop Kodesa besluit het. Albei dié eise het die potensiaal om meer skade as goed te doen en lyk nie baie deurdag nie. Sulke grond-en-bloed-eise is omtrent nooit deurdag nie. Wat die eise van voor 1913 betref, wonder ’n mens of wit Afrikaners eise sal kan instel vir eiendom wat in en ná die Anglo-Boereoorlog deur Brittanje van hulle weggevat is? Die terugdatering, word gesê, is onder meer om afstammelinge van die KhoiSan in staat te stel om ook eise in te stel. Hier kom die groot vraag weer na vore wat altyd vernietigend opduik by grond-en-bloed-kwessies: Hoe ver terug is jy bereid om te gaan? As ons 1 000 jaar teruggaan, was die hele land wat vandag Suid-Afrika is die Khoisan s’n. Sal ’n klein groepie van hul regstreekse nasate die hele land kry? Of as daar ’n paar honderd jaar teruggegaan word, sal die afsnypunt bepaal word om die tradisionele leiers se gebiede in byvoorbeeld die Oos-Kaap die Khoisan s’n te maak? Dit kan ’n ramp vir die ANC in daardie gebiede wees. Of sal die afsnydatum só vasgestel word om hulle nie ’n eis op daardie gebiede te gee nie? Die ander kwessie wat in die argumente opduik, is waarom ek die Khoisan vandag ’n “klein groepie” noem. Want wie is afstammelinge van wie hier in ons gemengde land? Toe die aanslag van bloed en grond hoogty gevier het in ons wêreld – toe nasionale state beslag gekry het – was die omskrywing van ’n etniese of rasgroep relatief maklik. Dit is gedoen aan die hand van taal – en ras in Suid-Afrika (velkleur, dus). Intussen het ’n kompliserende faktor werklikheid geword – genetiese toetsing. As iemand vandag sê hy is ’n regstreekse afstammeling van byvoorbeeld die Khoisan wat eeue gelede op grond gebly het, kan genetiese toetse vinnig gedoen word om dit te bevestig. Wat gebeur as die toetse anders aandui? Of as die toetse – soos dit neig om te doen – gedeeltelike afstammeling aandui. En ’n ander gedeelte byvoorbeeld dié van die “verdrukker” se genepoel is? Word die eis dan ooreenkomstig afgeskaal? Of heeltemal verwerp as daar net ’n klein of geen geneverwysing na die verdrukte groep is nie? Die foute waarop bloed-en-grond-argumente gereeld breek, is duidelik. Vir eers waar en deur wie word die afsnydatum bepaal? En dan die fout om grondbesit aan genetiese of etniese erflating te koppel. Dit kan lei (en het al dikwels) na ’n vernietigende rasionalisering van geweld. Gesonde verstand sê gee dinge wat van mense gesteel is terug – as die mense wat regstreeks geraak is nog met ons is. Soos met ’n boedel. Iemand kan van sy ouers erf – en behoort – maar kan nie nou ’n eis instel om te erf van ’n voorvader wat 200 jaar gelede dood is nie. Dit is wat grondrestitusie betref (waar grond aan iemand teruggegee word van wie dit verkeerdelik afgevat is). Breë grondherverdeling om ’n gelyker en dus stabieler samelewing te skep waarop ’n goeie toekoms gebou kan word, is iets anders.
Posted on: Tue, 25 Jun 2013 02:48:08 +0000

© 2015