HOOFARTIKEL: Motshekga is’n verleentheid vir onderwys Die - TopicsExpress



          

HOOFARTIKEL: Motshekga is’n verleentheid vir onderwys Die Burger Sondag 14 Julie 2013 Onderwysowerhede het verlede week ’n groot kopseer bygekry toe die organisasie Equal Education ’n hofbevel verkry het wat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, verplig om regulasies vir norme en standaarde vir skoolinfrastruktuur voor die einde van die jaar te finaliseer. Dié regulasies sal die minimumvereistes bevat waaraan ’n skool se infrastruktuur moet voldoen. Skoolgemeenskappe sal dan op daardie minimumstandaarde kan aandring, met die regering wat deur die hof verplig kan word om skole binne ’n voorgeskrewe tyd op die gegewe peil te kry. Motshekga is iemand wat lankal die trekpas as minister van basiese onderwys moes gekry het. Die handboeke-skandaal in Limpopo was genoeg rede. Haar departement is mankoliek en deurspek van korrupsie en onderwysvakbonde trek hulle neus vir haar op. Om dit eenvoudig te stel: Motshekga is ’n ramp as onderwysminister. Die regering het nou twee uiters onaptytlike opsies by die opstel van die regulasies. Die standaard kan eerstens hoog en idealisties gestel word, met vereistes soos ’n biblioteek en laboratoriums in elke skool. Of die standaard kan laag en realisties gestel word – behoorlike elektrisiteit en sanitasie, baksteengeboue, daardie minimum noodsaaklikhede wat die vorige bedeling skandelik nagelaat en die huidige bedeling nie reggestel kry nie. Die lae en realistiese opsie sal vir die regering ’n massiewe politieke verleentheid wees, ’n stok vir sy opponente in ’n verkiesingsjaar en ’n verdere rede vir algar om grootoog die gemeenplasige noodwendigheid te verkondig dat die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel in krisis is. Daar bestaan ’n sterk moontlikheid dat burgerregtegroepe die regering op grondwetlike gronde hof toe kan neem as die standaarde te laag gestel word en dis goed so, want die toestande in te veel (veral landelike) skole is so vieslik dat dit ’n nasionale gewetenskwessie moet wees. Mens hoop net realistiese, holistiese kosteberamings vorm deel van die denke.
Posted on: Mon, 15 Jul 2013 07:56:51 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015