JONATHAN JANSEN Rubriek: Danspassies na swak - TopicsExpress



          

JONATHAN JANSEN Rubriek: Danspassies na swak onderwys Beeld Hierdie is die tyd van die jaar wanneer ons uit die voorste gestoeltes kan waarneem hoekom ons nie langtermynoplossings vir die onderwyskrisis kan vind nie. Dit staan as die gr. 12-dilemma bekend. Elke enkele mens wat by skole betrokke is, begin hul aandag toespits op wat in die laaste jaar van formele skoolopleiding gebeur. Die provinsiale ministers is baie bekommerd omdat hulle weet dit is die belangrikste bepalende faktor wat hul doeltreffendheid betref. As jou provinsie in posisie 7, 8 of 9 vashaak, beteken dit jy doen nie jou werk behoorlik nie. As jy van posisie 3, 4 of 5 na 2 of 1 kan vorder, sal jy groot agting by medepolitici en veral jou partylede afdwing. So, wat doen jy? Jy plaas druk op almal onder jou om seker te maak jou skole vaar goed. Dan begin almal die ingewikkelde danspassies uitvoer wat verseker dat ons onderwysstelsel een van die swakste onder selfs Derdewêreldlande bly. Die streek- en kringbestuurders ontvang ’n duidelike boodskap: Doen alles moontlik om die uitslae te verbeter. Dit beteken allerhande pogings op die laaste nippertjie om punte te verhoog, soos intensiewe winter- en lenteskole, die deurwerk van ou vraestelle en die afdwing van nie-regeringsorganisasies, kerke, private maatskappye en welmenende individue op sukkelende skole in die hoop om punte te laat styg. Skoolhoofde weet hulle sal die skuld vir swak uitslae kry en pas allerhande twyfelagtige korttermyn-praktyke toe om dit te verbeter. Dit sluit in om swakker leerlinge in gr. 11 terug te hou, om druk op hulle uit te oefen om eerder wiskundige geletterdheid te neem en om gr. 12-leerlinge te ontmoedig om die eindeksamen te skryf as hulle die gemiddelde sal laat daal. In die eerste kwartaal word onderrigtyd dikwels gemors, maar nou word al die krane oopgedraai. Ouers en leerlinge betree hierdie speletjie met dieselfde korttermyn-redenasie. Ongeag wat in vorige grade gebeur het, weet hulle ’n kind se kanse in die lewe hang hoofsaaklik af van wat in matriek gebeur – jy gaan óf kollege of universiteit toe, óf jy maak vir die res van jou lewe hamburgers. Die beheerliggaam weet goeie matriekuitslae lok meer en beter leerlinge na die skool. En skole weet hulle sal onderwysers verloor tensy meer leerlinge inskryf. Almal kan dus by hierdie korttermynoplossing baat vind. Hoe verbreek ’n mens hierdie bose kringloop wat almal op kort termyn laat goed lyk, maar skole op lang termyn in ’n staat van wanfunksionering vasvang? Ons weet teen hierdie tyd almal dat die skoolstelsel se probleem nie matriek is nie, maar wel ’n gebrekkige grondslag in gr. 1 tot gr. 3. Ons weet uit massas navorsing dat ’n groot belegging in voorskoolse onderwys van gehalte jong kinders ’n reuse-voorsprong gee. Ons weet dat om die leervoordele van die grondslagfase na die intermediêre fase oor te dra, vaardige en goed aangepaste leerlinge in die senior fases sal verseker. En ons weet dat onderrig nie leer is nie en dat ofskoon eende met dwang gevoer kan word om groter lewers te verseker, dieselfde nie van die mens en sy brein gesê kan word nie (om dit kru te stel). Wanneer die minister van basiese onderwys lank voor die tyd begin aankondig dat sy ’n styging van 3% tot 5% in die slaagsyfer verwag, word sy wetens deel van die gr. 12-dilemma. Hierdie is ’n tragedie wat end moet kry. Dit sal politieke leierskap verg, asook die insig dat die land se langtermyn- maatskaplike en ekonomiese welsyn afhang van hoe die stelsel van onder af reggestel word. Dit sal geduld en selfs die verlies aan politieke aansien op kort termyn beteken. Maar die publiek sal verstaan, mits ’n realistiese plan uitstippel hoe die skoolstelsel oor die volgende 20 jaar reggestel sal word en watter korttermyn-gevolge dit sal inhou.
Posted on: Tue, 01 Oct 2013 06:36:23 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015