Joshua 1 vers 6: “Wees sterk en vol moed;” Joshua 1 vers 7: - TopicsExpress



          

Joshua 1 vers 6: “Wees sterk en vol moed;” Joshua 1 vers 7: “Wees net baie sterk en vol moed,” Joshua 1 vers 9: “Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie;” Sy Majesteit YaHWeH het Joshua 3 maal dit ingeskerp om sterk en vol moed te wees. Dis omdat Hy weet dat die oomblik wat Joshua die Opdrag wat hy van Elohim af ontvang, gaan gehoorsaam en gaan uitvoer, daar ONMIDDELLIKE teëstand in die geestelike realm gaan plaasvind. Die Vyand gaan ALLES in sy vermoë doen om hom te probeer verhinder om sy taak te verrig. En hierom stuur die Adder sy gees van VREES. Vrees om uit die gemaksone te beweeg. Vrees vir die onbekende. Vrees vir die oënskynlke onoorwinlike magsposisie van die Teëstander. Vrees vir die ontsettende wreedheid van die Heiden, die Barbaar. Vrees vir neerlaag. Vrees vir mislukking. Vrees om alleen op te staan vir dit wat hy in glo. Vrees vir die eensaamheid wat sy sending dalk mag beteken. Vrees om op te offer. Vrees vir pyn. Vrees dat daar nie genoeg voorsiening sal wees nie. Vrees vir verwerping en dat sy mense hom sal uitlag. Vrees dat sy God nie Sy Woord gestand sal doen nie. Vrees dat sy God hom in die hitte van die stryd, sal verlaat en verloën en hy soos ‘n gek daar sal staan. Ja, daar is baie goed wat die Adder na ons kant toe gooi. Soos wat Joyce Meyer tereg sê: “New Level, New Devil.” Die gees van VREES sal altyd daar wees om op ons sinne af te storm, maar ons moet ons nie deur hom laat afskrik nie. Ons kan met elke Nuwe Treë, elke Nuwe Vlak wat ons op ons Geloofspad vir die Almagtige gee, WEET: Elke plek waar ons voetsool in Sy Naam op sal trap, Hy dit aan ons sal gee. Niemand en niks sal voor ons standhou nie. Hy sal met ons wees, oral waar ons heengaan. Hy sal ons nie begewe en nie verlaat nie. Hy sal ons die Land laat erwe. Mag ons harte besny word en ontvanklik wees vir Sy Opdrag. Mag ons nougeset handel volgens alles wat Sy Vaderhart van ons verlang. Mag ons Sy Woord liefhê en koester. Mag ons Hom eerste soek in elke 24 uur wat Hy aan ons gee. Mag Hy ons Eerste Liefde wees. Mag ons so naby aan Hom kom dat ons Sy Vaderhart kan hoor. Mag ons Sy kosbare Liefdesverklaring van Jesaja 41 verse 8 tot 20 in ons harte bêre en dit op ons voorhoof bind. Slegs dan sal ons besef: Dapperheid is nie die afwesigheid van die gees van VREES nie, dit is om deur te druk en Oorwinning te behaal ten spyte van die aanslag daarvan. Omdat ons WEET wie ons Getroue, Waaragtige, Genadige en Liefdevolle God is en waartoe HY in staat is.
Posted on: Tue, 20 Aug 2013 09:35:14 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015