‘My kind is g’n monster’ Gestraf ná vrou in rivier gestoot - TopicsExpress



          

‘My kind is g’n monster’ Gestraf ná vrou in rivier gestoot is ‹› ’n Ouma het gister ’n hartpil onder haar tong gesit en die Vereeniging-streekhof in trane verlaat kort voordat haar kleinseun tot effektief tien jaar tronkstraf gevonnis is omdat hy ’n vrou gewurg en haar motor tot in ’n rivier gestoot het. Koba Fourie (70) het op die bank buite die hofsaal gesit en wag om te hoor wat haar kleinseun, Marius Fourie (19), se lot is. Fourie is skuldig bevind aan poging tot moord omdat hy Nagila Botha (21) op 31 Julie verlede jaar buite Meyerton gewurg en haar motor tot in die Kliprivier gestoot het terwyl sy bewusteloos was. Botha het vroeër aan Beeld gesê Fourie wou meer as vriende wees, maar sy het nie dieselfde gevoel nie. Hy het haar twee keer gewurg en sy het haar bewussyn verloor. Sy het later in haar motor in die Kliprivier bygekom. Fourie is tot 5 jaar tronkstraf gevonnis weens poging tot moord, tot 15 jaar weens roof met verswarende omstandighede (waarvan vyf jaar opgeskort is), tot 3 jaar weens menseroof en tot 5 jaar elk op nog twee aanklagte van poging tot moord. Dit sal deels samelopend uitgedien word. Landdros David Mey het gesê die vonnis moet as waarskuwingsboodskap na buite dien en moet Fourie help om te hervorm om beter anderkant uit te kom. Hy het gesê Fourie was 18 toe die misdaad gepleeg is en sy optrede dui op onvolwassenheid. Botha het gister saam met twee vroue by die hof opgedaag. Sy het geen emosie gewys nie. Mey het in sy uitspraak gesê Botha se regsverteenwoordiger het in sy vertoë gesê sy is bang vir mans en die voorval het ’n impak op haar verhouding met mans. “Sy is bang vir water en bang vir mans.” Familielede van Fourie was geskok oor die vonnis. “Ons voel geskok en hartseer. Dit voel of ons iemand aan die dood afgestaan het,” het Fourie se ma, Tertia, ná die vonnisoplegging aan Beeld gesê. Sy ma en ouma, asook sy suster, Michelle (20), en sy meisie van drie jaar, Liezel de Klerk (21), was tydens die vonnisoplegging baie emosioneel. Tertia het gesê Fourie en sy ouma Koba is baie na aan mekaar. “My kind is liefdevol en sag. Hy is nie ’n monster soos almal hom voorstel nie.” Sy het gesê hy moet aan al die programme in die tronk deelneem en net homself wees. “Dan sal almal sien dat hy nie ’n monster is nie.”
Posted on: Tue, 27 Aug 2013 05:01:16 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015