Snork ‘n Aardbewing met ’n sterkte van 6.6 het om 19.00 op - TopicsExpress



          

Snork ‘n Aardbewing met ’n sterkte van 6.6 het om 19.00 op Dinsdag 12 November 2013 die Skiereiland van Kamchatka getref. In Petropavlovsk en Yelizovo was niemand beseer nie, maar ‘n nooddienste span het afgekom op ‘n natuurbewaarder se verwoesde hut langs die kus van die Okhotsk See. Die ou, sy vrou, twee honde en ‘n kat het in die slag gebly – of so het hulle gedink toe hulle op die lyke afkom. Weens die uitermatige koue weer was die lyke baie goed gepreserveer en dit was moeilik om die oomblik van dood te bepaal (en sodoende te weet of die aardbewing te blameer was). By nadere ondersoek het hulle egter vasgestel dat almal koëelwonde in die kop gehad het. Sulke tragedies is ongelukkig nie vreemd in die streek nie. Afsondering en armoede eis gereeld die sinne van normale mense in hierdie asemrowende maar ongenaakbare gebied. Wat egter uitsonderlik was, was dat hulle op ‘n dagboek van die man afgekom het waarin hy verduidelik het wat daartoe aanleding gegee het dat hy die hele lot uitgewis het. Hy het ook stap vir stap verduidelik hoe hy dit sou doen en hierdie relaas het presies ooreengestem met wat die mense daar aangetref het. Kameraad Shelikhov verduidelik: Hy snork. Sy vrou snork. Die honde snork. Selfs die kat het soms ook ingeval en dit het al vir jare so aangegaan. Om een of ander rede het sy vrou egter ‘n erge aversie teen die klanke begin opbou. Hy en die honde sal nog rustig lê en snork, dan word hulle onseremonieel wakkergeskud. Dit gebeur ‘n hele paar keer in die nag. Die arme Shelikhov kon nie verstaan nie en het nie raad gehad nie. Hy het alles probeer: ‘n Apteker van Yelizovo het ‘n botteltjie goed aan hom verkoop wat hy in sy keel moet spuit voor slapenstyd. Hy het gedink dit help, maar sy vrou het nie in die medisyne geglo nie: Geen verbetering nie. Sy vrou het in ‘n tydskrif gelees (so het sy vertel) dat as hy sou ophou drink en rook dit ook baie beter sal gaan. So gemaak: Die toestand het net vererger, want nou slaap hy glad nie meer nie en moet nagte om lê of sit of staan en luister hoe sy wederhelf en die honde balke saag. Hy wou nog vir haar vra hoe dit werk dat sy so erg snork al rook en drink sy nie, maar hy het nooit genoeg moed gehad nie. Eendag het hy na maande se oordenking die bietjie moed wat hy nog in die leë kaste van sy siel kon vind bymekaargeskraap en met haar oor die probleem probeer praat. Hy het die onderwerp met ‘n lang ompad versigtig aangehaal. In Afrikaans sou dit amper so gebeur het: Hy: ‘Skatlam, dink jy nie dat ons maar dalk op ons oudag in Petropavlovsk moet gaan aftree nie?’ Sy: ‘Is jy van jou sinne beroof Bok? Hoe sal ek aanpas in die stad met al sy geraas?’ Hy het natuurlik geweet sy is baie lief vir die stilte en was in sy noppies dat hy haar so maklik in die lokval gelei het. Hy: ‘Onthou jy toe ons Moskou toe was met die trein?’ Sy: ‘Ja?’ Hy: ‘‘n Trein maak ‘n moerse geraas, maar mens kan daarin slaap. As mens in ‘n trein kan slaap, kan jy ook seker langs een slaap?’ Hy het gedink dat hy die net se nek maar kan styftrek. Vervolgens sal hy dan verduidelik hoe mens se onderbewussyn normaalweg werk: Maak vrede met onskuldige geluide, skrik wakker vir vreemde klanke en so meer… Die triomf sal dan volg as hy haar gaan vra of sy nie maar wil vredemaak met die gesnorkery nie. Sy: ‘Fokof Bok!’ Ou Shelikhov het maar naderhand geleer om wakker te bly totdat Mevrou lankal in droomland is en hy so moeg is dat ‘n aardbewing hom nie sal wakkerhou nie. Dit het darem hul lewens vir ’n paar jaar gespaar, maar die druk in die eenvertrek hut het soos ‘n stoompot opgebou en opgebou. Die dagboek het natuurlik baie meer dinge van die gesinnetjie se lief en leed geboekstaaf as net die tragiese einde en die oorsake daarvan – of so lyk dit op die oog af. Shelikhov trek weg in ‘n pragtige skrif en skryfstyl. Hy beskryf hul vroeëre jare soos ‘n wafferse Tolstoy. Die tweetjies het aanvanklik liefdegemaak dat die biesies bewe. Hy kon nie sy hande van haar afhou nie en alle aanduidings is dat sy net so warm soos hy was. Stelselmatig kan mens egter die simtome van slapeloosheid begin raaklees: Die skrif word swak, sy logika en geheue laat hom in die steek en beide se libido’s is by die deur uit. Mettertyd is dit duidelik dat die ou nie meer in staat is om oplossings vir die kleinste probleempies te vind nie, wat nog te sê vir die groot probleem van slaapontneming… Die skrywer vertel ook hoe hy later onreelmatige hartkloppings begin kry het, aan hoë bloeddruk gely het en diabetes ontwikkel het. Hy kla oor donker kringe onder sy oë en plooie wat binne dae verskyn. Hy kon ook nie ophou eet nie. Depressie, ‘n ligte beroerte en latere paranoia het hom uiteindelik laat ontplof. Teen gisteraand SA tyd het Russiese seismoloë bevestig dat Shelikhov se hut reg in die middelpunt van die aardbewing geleë was.
Posted on: Sun, 17 Nov 2013 02:57:51 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015