Soms lewe ek te vinnig … Vriendskap is soos die natuur. Soms - TopicsExpress



          

Soms lewe ek te vinnig … Vriendskap is soos die natuur. Soms waai ek by jou verby sonder om te stop en te vra hoekom jy so verkreukeld lyk. Die lewe se wind dra ons weg met ‘n oppervlakkige “Goed dankie” en “Sien jou later”. Soms sien ek eers baie later die rypskade aan jou brose binneste en wonder ek hoekom het ek nie lankal gevra nie. Soms sien ek net die lentekleur raak op jou gesig en is ek nie eers bewus van die wurm wat aan jou binneste vreet nie. Soms wonder ek of dit net die wind is wat jou wegbuig van my af en of dit dalk die stingeltjie self is wat sy stokstywe ruggie op my draai. Pluk iemand ons vir ‘n ruiker uit God se tuin, wriemel ons weg van mekaar. Roos se dorings steek te seer en papawer wil mos langs niemand wees nie! Koringblommetjie kruip weg van skaamte oor haar kartelhoede en Hibuskus wonder of almal weet van haar verlede. Intussen vergeet ek dat die Here afkyk op Sy tuin en net pragtige blomme sien. Almal is ewe mooi, ewe kosbaar, ewe goed in Sy oë. Vergewe my daarom as ek by jou verbygewaai het op ‘n herfsoggend en nie jou hand gevat het in die sonlig nie. Vergewe my as ek op ‘n wintersoggend nie vir jou ‘n trooskombersie van woorde wou oorgooi teen die rypskade nie. Vergewe my as ek op ‘n lente-oggend selfsugtig met my eie nuwe blare loop en spog het en nie die kneusplekkies aan jou stingeltjie gesien het nie. Vergewe my as ek op ‘n warm somersdag nie vir jou ‘n tydjie gemaak het nie, omdat ek te besig was, selfs te veel gekla het, te haastig was om aan jou die koelte van my vriendskap te bied. Ek vra verskoning… Weet asseblief dat ek daar is en altyd wil wees vir jou! Onse Vader, seën hulle wat hierdie lees met wat ook al hulle mag nodig hê vandag en die res van hulle lewe. Mag hulle lewe vervul wees met U vrede, voorspoed, liefde en krag omdat hulle nog selfs ‘n dieper verhouding met U begeer. Dankie vir al die voorregte, liefde en ongevraagde vreugdes en geskenke wat U aan hulle gee vandag en die res van hulle lewe. Dankie vir hulle wat op my pad gekom het saam met wie ek al die voorregte, liefde en ongevraagde vreugdes en geskenke kan deel. Amen
Posted on: Thu, 22 Aug 2013 05:13:55 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015