Van Alle Kante: Obama keer terug in minder sonnige tye MICHELÉ O - TopicsExpress



          

Van Alle Kante: Obama keer terug in minder sonnige tye MICHELÉ O ‘CONNOR : Die Burger Saterdag 29 Junie 2013 Suid-Afrika is dié week gekeur tussen ’n besoek deur pres. Barack Obama van Amerika en die nasie se hartseer oor Madiba se siektetoestand. Obama sal met dié besoek, sy tweede aan Suid-Afrika, waarskynlik nie so hartlik ontvang word soos wat sy administrasie hoop nie. Ses jaar gelede, op ’n sonnige Augustus-oggend in Kaapstad, was dit vir ’n jonger Obama anders. Hy was destyds die senator van die deelstaat Illinois en die aangewese kandidaat om die Demokrate weer aan die stuur van Amerika te plaas. Ek onthou daardie besondere wintersoggend en hoe sy besoek aan die kantoor van die Treatment Action Campaign (TAC) en ’n vigskliniek in Khayelitsha verloop het. Inwoners van die omgewing het vir ’n oomblik stil gestaan. Hulle het hul vergaap aan die rits swart 4x4’s met getinte ruite wat by die vigskliniek se parkeerterrein ingeswiep het. Oud en jonk het hul wenkbroue opgetrek en gefrons toe minstens tien mans geklee in donker pakke en wit hemde uit die voertuie peul. Dié klomp se oë hardloop oor die sentrum, soek-soek na asdromme en verdagte elemente. ’n Luukse en nog donkerder motor glip soos ’n wiegende skip by die parkeerterrein in. Hy klim flink uit die motor se pens, vryf seunsagtig oor sy hare en vroetel met die knoop van sy donker baadjie. Hy is langer en jonger as wat ’n mens verwag. Dit is senator Barack Obama se eerste besoek aan Suid-Afrika en Kaapstad. Hy tuur ’n oomblik na die toneel voor hom. Sy oë veeg oor die vervalle gebou. Hy knik in die rigting van ’n bejaarde man wat in die sonnetjie teen die gebou hitte soek . . . Een van die manne in donker staan nader. Hy knik in Obama se rigting en die twee begin na die kantoor stap. Die alledaagsheid van die mense se lewe gaan skielik voort. Die bejaarde man teen die muur maak sy oë toe, ’n ma en haar baba verdwyn om die hoek en ’n hongerige hond snuffel aan een van die 4x4’s se bande voordat hy sy been lig. Die laaste van die manne in swart maak die groepie verslaggewers soos skape bymekaar. Hy sê niks. Beduie die groepie in die rigting van die kantoor. Zackie Achmat, vigsaktivis en ’n doring in die destydse minister van gesondheid, dr. Manto Tshabalala-Msimang, se vlees, verwelkom Obama soos ’n ou vriend. Obama lag gul en begin praat. Sy ryk en geoefende stem spoel soos ’n golf oor sy gehoor. Hy praat hartstogtelik oor die vigs-pandemie wat in Afrika, soos in sy eie land, te veel lewens eis. Dit tref my dán: Dié man is vir hoër hoogtes en groter suksesse geoormerk. Hy was nie van plan om “Meneer die Senator” te bly nie. Nou keer hy terug as die magtigste man op aarde. moconnor@dieburger Kaapstad
Posted on: Sat, 29 Jun 2013 10:22:07 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015