WEK DIE HELDE OP! “Wek die helde op, laat al die krygsmanne - TopicsExpress



          

WEK DIE HELDE OP! “Wek die helde op, laat al die krygsmanne nader kom, opruk!” (Joël 3:9) Ons leef in die dag van beslissing! Daar word in hierdie tyd ‘n besondere aanslag op die gees van die mens gelewer. Alle weerstand word afgebreek. Die mens word geïndoktrineer om alles te aanvaar. Skeidslyne tussen reg en verkeerd vervaag. Die jeug weet nie meer wat is reg en wat is verkeerd nie! Daar is nie meer standaarde waarvolgens mense moet leef nie. Elkeen doen wat hy dink en voel is reg. “Dit is immers jou menseregte;” sê die wêreld. Maar God het die mens geskape om met hom te verkeer. Om heilig en toegewyd te leef. Om vol van die krag en heerlikheid van God te wees. MAAR: Die doelwit van die bose is om die mens te verdierlik. Om die mens weg van God te kry en in sy gees te ondermyn. Satan is besig om in sy doel te slaag! Ons leef in die vooraand van die verskyning van die “wettelose”! Die gees van die Antichris is al aan die werk en sy pad word voorberei! DIT IS DIE STRYD! Nie teen vlees en bloed nie. Maar ‘n stryd teen die owerhede, teen die bose geeste in die lug. Ons staan in daardie stryd! En dit is tot daardie stryd waartoe ons opgeroep word. “Wek die helde op, laat al die krygsmanne nader kom, ......; laat die swakke sê: Ek is ‘n held.” (Joël 3:9–10.) Ons het in die kommunisme gesien hoe die persoonlikheid van die bose na vore kom. Hoe satan se aard en sy karakter geopenbaar word. Kommunisme se eerste doelwit was om alle weerstand te laat verbrokkel. Hulle strewe en doelwit was om eers die mense bang te maak. Om so alle weerstand te laat verbrokkel. Om die mensdom so bevrees te maak dat hulle in die naam van vrede bereid is om maar toe te gee. Dit is ongelukkig die toestand waarin die grootste deel van die Christendom hulself bevind! Hulle het lam geword. In hulle gees het hulle swak geword. Dit is teen hierdie toestand dat die profeet mense oproep en tot die stryd aansê! Spr. 24:10 sê: “Gedra jy jou slap in die dag van benoudheid, dan skiet jou krag tekort..” D.w.s. Wanneer die dag van onheil aanbreek en jou gees is slap, dan sal jy uitvind jy is in die moeilikheid! Omdat baie mense so slap in hulle gees geword het; geen moed en geloof het nie - geen daadkrag het nie, gaan hulle dae doelloos verby. Dis leeg, dis vrugteloos, talente word gemors, gawes wat hulle van God ontvang word verwaarloos! Die duiwel is daarop uit om die gelowiges, mak te maak! Hy het reeds daarin geslaag om baie gelowiges slap te maak. Hy wil ons soos gewone mense maak. Ons moet soos die gewone mense praat, dink, oordeel en sy plesiere hê. Ons moenie anders wees nie - net gewoonweg wees. Ek glo ‘n ware kind van God is ‘n buitengewone mens! Hulle dra die ware beeld van God uit! Dit is ongelowiges wat onder standaard is! Watter standaard? Onder God se standaard! Onder die Bybel se standaard! Die oproep van die profeet is: “Wek die helde op, laat al die krygsmanne nader kom,!” Dit is die dag van beslissing! En menigtes verkeer in die dal van beslissing! Die uur is daar vir die Pinkstervolk om die uitdaging van die uur te aanvaar! Jesus sê vir sy dissipels in Hand. 1:8 “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal My getuies wees.” M.A.W. Wanneer julle in julle Gees versterk is sal julle opstaan teen die bose magte! Julle sal in staat wees om vir die wêreld te wys: Jesus is die Here! En die wêreld sal julle volg! Julle sal innerlik so versterk word, so oortuig word, so saam met God beweeg, so in die Gees spreek, sodat die wêreld sal weet Jesus is die Here! Hulle sal weet, en hulle sal Hom volg en hulle sal Sy naam verheerlik! DIT IS GOD SE MANIER! Hy doen Sy werke deur mense wat vol van die Gees is! Hy wil deur jou Sy krag werk sodat die wêreld sal weet Jesus is Here! God roep Sy helde op in hierdie tyd! Mense wat vol is van die Gees van God! Mense wat met God ‘n pad stap en elke dag van Hom hoor! God is die een wat die opdragte deur Sy Gees gee! Petrus se lewe demonstreer die krag van God in ‘n mens se lewe. Toe Jesus gevange geneem word staan Petrus daar by die vuur. Dit was koud. ‘n Eenvoudige diensmeisie kom na hom en sê: “Jy is mos ook een van hulle?” Wat sê ou Petrus? “Ek ken Hom nie!” Arme ou Petrus! In die uur van krisis is hy niks werd nie! Die oomblik toe hy sy man moes staan, toe val hy voor ‘n diensmeisie. Daar is ‘n papheid, ‘n slapheid in sy gees. En dit is die moeilikheid met baie gelowiges! Die geringste ding wat gebeur in hulle lewe, laat hulle in hulle dop kruip soos ‘n krimpvarkie! Maar toe Petrus die dag aangedoen word met krag uit die hoogte; was dit ‘n heel ander saak! Die groot verskil was dat Petrus in sy persoon ‘n ander mens was. Toe die Gees van die Here uitgestort word, toe die geluid van ‘n rukwind met tonge van vuur oor die mense kom, toe stroom die duisende Jode saam! “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur My Gees, sê die HERE van die leërskare.” (Sag. 4:6) Die eens bang Petrus was nou ‘n ander mens! Hy staan op! Hy vlug nie meer weg nie! Die krag van die Here was oor hom! TOE KOM PETRUS IN AKSIE! Hy sê vir hulle: “Die Christus wat julle gekruisig het, God het Hom uit die dood uit opgewek! God het Hom verheerlik.” Petrus het met soveel gesag gepraat dat hy hulle in hulle gees gearresteer het! Die wêreld begin vra: “Wat moet ons doen broeders!” Wanneer die wêreld begin vra vir hulp, dan het die boodskap deurgekom! Dan is die heerlikheid van God geopenbaar. God werk deur ‘n man wat vervul is met Sy Gees! Dit is nie soseer wat jy doen wat saak maak nie! Dit is wat jy is wat die verskil maak. Die uur het gekom my broeder en suster! Die dag van konfrontasie! DIT IS DIE UUR VAN BESLISSING! Ja dis waar; “Jesus kom weer” maar dis nie nou tyd om te gaan lê nie! Hoor wat sê die Woord van God van ons dag: “Haas julle en kom aan, alle nasies rondom, en versamel julle. Laat u helde, HERE, daarheen aftrek! Die nasies moet hulle klaarmaak en optrek na die dal van Jósafat; want daar sal Ek sit om gerig te hou oor al die nasies rondom. Steek die sekel in, want die oes is ryp! Kom trap, want die parskuip is vol, die kuipe loop oor! Want hulle boosheid is groot. Menigtes, menigtes in die dal van beslissing, want naby is die dag van die HERE in die dal van beslissing!” (Joël 3: 11 – 14.) God vra: “Waar is My helde?” Laat ons bid: “Laat U helde, HERE, daarheen aftrek!” Mag God ons help! Dr Josua Malan
Posted on: Tue, 01 Oct 2013 09:18:26 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015