Wimbledon word slagveld Beserings eis ses sterre KOBUS PRETORIUS : - TopicsExpress



          

Wimbledon word slagveld Beserings eis ses sterre KOBUS PRETORIUS : Beeld KAAPSTAD. – Wimbledon se grasbane was gister ’n slagveld, met Roger Federer een van ’n rits sterre wat hul tasse moes pak. Dié sewemalige kampioen het ’n skok-nederlaag in vier stelle teen Sergiy Stakhovsky van die Oekraïne gely (7-6, 6-7, 5-7, 6-7). Dít was die Switserse meester se swakste vertoning op Wimbledon sedert 2002 en die eerste keer in 37 Grand Slam-toernooie dat hy nie minstens die kwarteindronde gehaal het nie. Stakhovsky (116de op die wêreldranglys) het daarteenoor die eerste keer in sy loopbaan Wimbledon se derde ronde gehaal. Die Oekraïner, wat 1.93 m in sy sokkies staan, het sy kragtige afslaan goed ingespan en koelkop gebly in die valbylpotte. Federer was voor sy nederlaag al op die agtervoet, toe Wimbledon-beamptes hom verbied het om weer met die tennisskoene te speel wat hy in sy eersteronde-sege gedra het, het die Daily Mail berig. Dié skoene met hul helder­oranje sole was volgens die All England Club teen hul reëls, wat wit uitrustings van kop tot toon vereis. * Beserings het gister minstens ses spelers geëis, terwyl die 20-jarige Portugees Michelle Larcher de Brito vir nog ’n opskudding gesorg het toe sy Maria Sharapova (derde gekeur) uitgeskakel het. De Brito, die 131ste op die wêreldranglys, het dié tweederonde-stryd in skoon stelle gewen. Die vernaamste besering-slagoffers was Victoria Azarenka (tweede gekeur, knie), Jo-Wilfried Tsonga (sesde gekeur, knie) en Steve Darcis (skouer), Rafael Nadal se tier in die eerste ronde. Die Amerikaner John Isner moes sy wedstryd teen Adrian Mannarino gister weens ’n kniebesering prysgee, berig Reuters, voor Radek Stepanek (dyspierbesering) se toernooi kortgeknip is. Ook Marin Cilic (tiende gekeur, kniebesering) het hom voor sy tweede­ronde-stryd onttrek. * Die Skot Andy Murray het tot die derde ronde deurgedring toe hy Yen-Hsun Lu van Taiwan met 6-3, 6-3, 7-5 geklop het. Sy pad eindstryd toe lyk nou aansienlik makliker met Tsonga en Federer wat in sy helfte van die loting was.
Posted on: Thu, 27 Jun 2013 09:29:20 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015