A Theo Du Preez Dit is vandag ons nuutste gepubliseerde digter, - TopicsExpress



          

A Theo Du Preez Dit is vandag ons nuutste gepubliseerde digter, Oswald Rall Theart se verjaarsdag en daarom ook gepas dat ek iets oor sy debuutbundel se. Ek wil my nie uitgee as n resensent nie, maar as ywerige gereelde leser, dink ek tog dat dit belangrik is om die bundel uit n lid van die teikenmark se oe te beskou: Borrelwater - Oswald Rall Theart. Versorg en uitgegee deur KREATIV SA Fotos deur Wia Cronje en OR Theart, met inbegrip van die omslagfoto. Deurdat ek n bemarker is sedert 1985, is die visuele vir my belangrik as ek enige aankoop (veral boeke) oorweeg, dit gee gewoonlik n aanduiding van eerstens hoe ernstig die outeur/ digter met die inhoud is en tweedens vertel dit iets van hom of haarself sowel as iets van die inhoud. Met dit in ag genome, slaag Borrelwater met vlieende vaandels. Die stofomslagontwerp is keurig en professioneel en beeld n prag sonsondergang oor die rivier (Okavango) van Oswald se huis uit. Ek sal my verstout om te se dat op die winkelrak dit beslis vir my sal uitstaan. Die titel is duidelik, met n subtitel in n kleiner, maar tog maklik leesbare font skuins onder dit. Die digter se naam is ook prominent aan die voet van die voorblad. Die voorbladfoto strek tot op die agterblad met inligting en n kort bio van die digter. Oor die algemeen verdien die aanbieding en stofomslag hoe punte. Soos die gewoonte is, word die bundel opgedra aan iemand (sy Ma), met n kort uittreksel en verwysing na een van die kerngedigte. Die inhoudsopgawe is standaard, duidelik en met die nodigste inligting, soortgelyk aan wat ek in talle ander bundels ervaar het. Na n inleidende gedig, begin die verse in alle erns. Elke gedig word vergesel deur n swart-en-wit foto (op die ooreenstemmende regterkantste blad), geneem of deut Theart self of deur Wia Cronje, soos reeds aangedui. Die foto is aanvullend en verduidelikend, met die gehalte daarvan n seker aanduiding dat beide Theart en Cronje bewese fotograwe is. Die fotos, glo ek, is met sorg gekies en laat die leser met min twyfel waaroor die gedig gaan. Die subtitel op die voorblad: Verse uit die Okavango, gee n aanduiding oor die inhoud. Die kon net sowel gelees het Stories uit die Okavango, want dit is de facto wat dit is, Theart se EIE persoonlike verhale en van die om hom, sowel as ondervindinge deur hom en sy gesin. Theart le homself bloot aan die leser, sy liefde vir sy Namibie, sy gesin en die natuur straal uir die bundel, van die eerste bladsy tot die laaste. Hy hou nie terug op emosie nie en is eerlik oor sy eie vertwyfelinge. Daar bestaan by die leser min twyfel oor wie en wat OR Theart is en wat vir hom belangrik is. Die titel Borrelwater is klaarblyklik n plek waaruit die water soos n fontein natuurlik borrel. Die dieper mening daarvan egter, is n metafoor van hoe die woorde, beelde en gedagtes uit hom uit borrel. Die nimmereindigende stroom verse wat skielik, asof van uit die niet, uit Theart se pen (rekenaarsleutelbord) vloei, gee n aanduiding hoe en hoeveel opgekropte woorde en idees al lank in hom vasgesteek het, maar dit het nou eers n geleentheid om uit te borrel. Met respek teenoor al die dosyne bundels van n spektrum van digters wat ek al onder oe gehad het en wat ek my weer van vergewis het die afgelope tyd, is Borrelwater seker die bundel wat die maklikste lees. Die woordgebruik is alledaagse spreektaal, maar goeie Afrikaans word deurgaans gebruik en die paar tegniese- en eie-aan-namibiese naamwoorde, spreek van sy besondere kennis van sy omgewing. In n seker opsig, is Borrelwater n terugkeer na van die klassieke bundels van die verlede, wat maklik verstaanbaar en leesbaar is. Natuurlik is dit juis die tipe verse wat gewoonlik onthou word en maklik weergegee kan word. Almal ken Die wagtertjie stap, sproeireen en n legio ander voorbeelde, myns insiens juis omdat dit algemene omgangstaal is. Natuurlik is daar ook n verwysing na die Facebook digers en meer spesifiek na Lief Afrikaans Uitgeprop en sy mense en n mens kry die idee dat dit die groep (sowel as ander groepe) is wat uiteindelik die instrument was waardeur Theart sy verse kon toets en die nodige aanmoediging gekry het om Borrelwater die lig te laat sien. Om saam te vat, kan ek Borrelwater in n paar woorde beskryf: eerlik, eenvoudig (in die beste moontlike opsig), vernuwend en hoogs leesbaar, veral vir n ou soos ek met ADD. Borrelwater is n baie goeie eerste bundel wat maar meer en weer gelees kan word. Daar is by my min twyfel dat Borrelwater die eerste van baie bundels uit Oswald Rall Theart se pen gaan wees! Ek sien voorwaar uit na die volgende een wat blykbaar al in n gevorderde stadium is. Theo du Preez 13/10/2013
Posted on: Thu, 24 Oct 2013 14:53:14 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015