ADRIAAN BASSON Rubriek: Is die polisie nou die - TopicsExpress



          

ADRIAAN BASSON Rubriek: Is die polisie nou die mafia? Beeld Maandag 28 Oktober 2013 Die gemors in die Suid-Afrikaanse Polisiediens herinner my aan die Key West-saak van 1984. Key West is die naam van ’n polisiekantoor in die Monroe-distrik in Florida. In Junie 1984 is die ganse polisiekantoor ingevolge Amerika se Rico-wet (Racketeer Influenced and Corrupt Organisations) tot ’n misdadige onderneming verklaar. In die 1970’s is die wet meestal gebruik om georganiseerde bendes en die mafia mee hok te slaan. Wat Rico so besonders gemaak het, was dat die staat nou ’n hele misdadige onderneming kon aankla van rampokkery (racketeering), eerder as ’n rits individuele klagte. Ná ’n deurtastende FBI-ondersoek is bevind dat Key West nie net misdadige elemente bevat het nie, maar in wese deel was van ’n dwelmsindikaat in Florida. Senior offisiere in die kantoor het die dwelmbaas Miguel Brito-Williams beskerm en sakke kokaïen is gereeld by die polisiehoof se kantoor afgelewer. Gebeure die afgelope paar dae in die SAPD het my laat wonder hoe ver ons daarvan is dat die ganse organisasie, of minstens die misdaadintelligensie-eenheid, van rampokkery aangekla kan word. Daar’s nou ’n oksimoron: misdaadintelligensie. Die SAPD vervul ’n kernfunksie in ons misdaadgeteisterde land. Nie net moet hulle misdadigers ondersoek en arresteer nie, maar ook misdaad voorkom deur sindikate te infiltreer en sigbaar, bekwaam en korrek op te tree. Mense moet bang wees vir die polisie. Dit is maar vrek moeilik as mens hoor die nasionale polisiehoof word verdink van misdadige optrede; ’n provinsiale polisiehoof is glo in die sak van dwelmsmokkelaars; die waarnemende hoof van misdaadintelligensie het glo sy kwalifikasies bekook en die geskorste hoof van misdaadintelligensie, wat van moord en korrupsie verdink word, is dalk op pad terug na sy werk toe. Dan praat ons nie eens van die polisie se skokkende vertoning tot dusver voor die Marikana-kommissie of die amper-weeklikse beriggewing oor mense wat suksesvol miljoene rande eis van die polisie weens nalatige of onbevoegde optrede nie. Sou genl. Riah Phiyega daaraan skuldig bevind word dat sy die Wes-Kaapse polisiehoof, Arno Lamoer, onwettig vertel het van ’n ondersoek teen hom, sal sy die derde polisiehoof in drie jaar word wat die trekpas kry weens korrupte gedrag. Something is rotten in the state of Denmark. Jackie Selebi het geld, klere en cappuccino’s ontvang van ’n dwelmbaas. In ruil daarvoor het hy aan Glenn Agliotti geheime intelligensieverslae gewys en hom op hoogte gehou van polisieondersoeke teen sy sindikaat. Bheki Cele is afgedank nadat hy ’n tender van R500 miljoen vir ’n nuwe polisiehoofkantoor sonder die korrekte prosedure aan ’n vriend van pres. Jacob Zuma toegeken het. En nou Phiyega. Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat ondersoek haar omdat sy glo vir Lamoer ingelig het oor ’n ondersoek deur die Valke en misdaadintelligensie teen hom. Die bewering is dat Lamoer omkoopgeld sou gevat het van ’n dwelmbaas. En toe skors Phiyega vir genl.maj. Chris Ngcobo, waarnemende hoof van misdaadintelligensie, glo oor hy sy kwalifikasies vervals het. Maar Ngcobo klap dadelik terug: Hy word gestraf omdat hy Phiyega en Lamoer laat ondersoek het. Om sake te vererger word die Valke-hoof, Anwa Dramat, ondersoek weens sy beweerde rol in die onwettige uitlewering van verdagtes aan Zimbabwe. Die SAPD is in ’n diep moeras. Al wie daarby baat vind, is misdadigers. ’n Mens kan amper hoor hoe lekker lag Radovan Krejcir daar in sy Bedfordviewse herehuis. ** Hoekom voel dit vir my of Faf du Plessis lig afgekom het van sy blatante balpeutery teen Pakistan? Ek wonder hoe ons sou gereageer het as dit ’n Pakistani was wat die bal so teen sy ritssluiter geskuur het?
Posted on: Sun, 27 Oct 2013 23:50:26 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015