ANNEMARIE VAN DER WALT Rubriek: Ware mans respekteer - TopicsExpress



          

ANNEMARIE VAN DER WALT Rubriek: Ware mans respekteer vroulikheid Donderdag 18 Julie 2013 Iewers moet daar tog dalk ’n foto-album vol kiekies wees van ’n klein dogtertjie en haar pa op ’n strand, haar hand veilig in syne toegevou. Miskien is daar steeds by ’n vergete adres ’n plek waar haar klein voetspore afgedruk is in sement om só ’n oomblik te verewig wat almal geweet het verby sou gaan. En in die aande sou hy haar dalk leer om te bid vir die Vader. Elke dogter het ’n pa. ’n Mens hoef g’n kenner van die sielkunde te wees om te weet hoe belangrik die rol van ’n pa in ’n dogter se lewe is nie. Benewens die vanselfsprekende verantwoordelikheid van versorging en leiding is daardie verhouding ook die een wat by uitstek kan bepaal wat sy dogter se houding jeens ander mans in haar lewe sal wees. Dit sal in groot mate haar siening en belewing van vroulikheid, insluitend die seksuele, vorm en rig. Dit spook by my, dié gedagtes, sedert die Modimolle-saak weer begin het. En die byna gelate en vermoeide uitdrukking van die skuldigbevinde Johan Kotzé laat my koud. Dat hy sigbaar ouer geword het tydens sy verhoorafwagting laat my yskoud. En ek moet keer dat walging my nie oorweldig nie wanneer ek kyk na die foto’s waar hy ondersteun word deur verskeie onbekende vroue, want ek weet nie wat hul redes of verhouding met hom is nie. Dit is nietemin onrusbarend. Want Kotzé, asook sy medebeskuldiges, Andries Sithole, Pieta Mohlane en Frans Mphaka, het Ina Bonnette se vroulikheid op ’n weersinwekkende manier van haar probeer stroop. Sy is die slagoffer. Maar ook haar dogter én Kotzé se dogter, en indien die ander drie beskuldigdes dogters het hulle ook. Dié mans was veronderstel om hul dogters, hul kinders, te versorg, leiding te gee, en volwassenes te wees wat sosiaal en moreel aanvaarbare norme en waardes kweek. Om mans en pa’s te wees wat ontluikende vroulikheid koester en respekteer sodat dit tot wasdom kan kom op alle vlakke. Dit is wat ware mans doen. Pleks daarvan het hulle in een middag als tot nul en gener waarde gemaak weens hebsug, wellus, woede, afguns en narsisme. Ek het dit veral oor Kotzé, want hy lyk soos die ou wat langs jou op ’n rugbypaviljoen kan sit, lekker kon lag om ’n braaivuur, wie se dogter myne se vriendin kon wees. Ek sou dalk selfs dink hy’s ’n goeie pa. Ek sal bid vir Ina en haar dogter, en in besonder vir Kotzé se dogter, vir die lang herstelpad wat elkeen nog moet aflê. Maar ek sal nie ’n vader aanroep nie. Want my God is ontdaan van aardse vaderlike eienskappe wat deur eeue vergoddelik is, maar altyd tekort sal skiet. My God is ook nie aards vroulik nie, want ook daar is gebreke. Die vader weet, daar is net ’n Almag.
Posted on: Thu, 18 Jul 2013 05:18:52 +0000

Recently Viewed Topics




© 2015