CECILE CILLIERS Rubriek: Niks berei mens voor op Kaapse - TopicsExpress



          

CECILE CILLIERS Rubriek: Niks berei mens voor op Kaapse reën Beeld-deurloop Sowat van storms het ek nog nooit beleef nie. Ek ken die Hoëveld, donderweer, die gedreun, die blitse, en dan die harde, harde reën. Soms hael. Hoeveel van ons motors moes nie oor die jare vir haelskade duikklopper toe nie. In Johannesburg het ek nooit ’n sambreel besit nie, want wat help die sambreel jou? Dit hou jou hare droog, ja, en soms jou skouers, maar die res, alles ondertoe, word sop, sopnat. Aan die hare het ek my nooit gesteur nie, want dié krul vanself, daar’s nie ’n perm wat kan uitreën nie. Maar nat skoene en kouse kon ek nog nooit verduur nie. Nee wat, op die Hoëveld bly jy maar binne, kyk deur die venster, en as hy effens lig, is dit oop en toe motorhuis toe. Of waarheen ook al. Maar ek onthou met groter ontsag die weerlig by Koegasbrug, die asbesmyn aan die Oranjerivier wat nou so lank reeds gesluit is. Daar het die blitse van die een ysterdraende rots na die ander gespring sodat die hele wêreld vir oomblik ná oomblik in neon belig is. Hier in die Kaap is daar soms donderstorms, maar die manne (en vroue) hier skrik gou. Het jy gisteraand die weer gehoor? word daar beangs om die brugtafel gevra. Ek het sommer die komberse oor my kop getrek! Ja-nee, op die Hoëveld sal hulle swaar lewe. Soos ek die afgelope week swaar gelewe het, want sowat van storms het ek nog nooit beleef nie. Reënbuie wat soos hael op die dak kletter, ’n wind van meer as 70 km/h wat selfs my stewig geboude huisie laat kraak en kreun soos ’n seilskip op die see; geute wat water by die emmer uitspoeg, strate wat riviere word. En dit hou nie op nie. ’n Hoëveldse donderstorm het ’n rammelende begin en dan blou lug; en soms kry ’n mens in die laatsomer ’n sifreëntjie wat vier, vyf dae hou. Geelperskereën. Maar hier was die wind ’n onophoudelike gewoeker met die bome, die plante, en stortreën-vlae is deur dieselfde wind aangedryf soos jaende perde. Nagmerrie-weer. En ek het knus in my bed gelê en was ’n klein bietjie bang vir soveel geraas, soveel geweld. Hoe, het ek gewonder, het mevrou Van Riebeeck en haar susters in die verdrukking deur daardie eerste Kaapse winter gekom? Het hulle op die skepe gebly, hulle daar probeer droog hou? Maar meer nog, hoe slaap die plakkerskamp-bewoners vannag? Is hul opslaanplekke hoegenaamd teen hierdie wind bestand? En hoe, hoe op aarde bly hulle droog? Wilhelmina Burgers van Napier sê die winter in die Kaap kom nie tot ’n einde voordat daar ’n agtdaagse reën was nie. Hy het die vorige Sondag begin reën; wie weet, miskien kom my wasgoed vandag droog en die arme mense in die plakkerskampe se beddegoed ook.
Posted on: Tue, 20 Aug 2013 15:52:09 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015