Kan Jy Gelukkig Wees? Spreuke 16:20: “Wie ag gee op die Woord, - TopicsExpress



          

Kan Jy Gelukkig Wees? Spreuke 16:20: “Wie ag gee op die Woord, sal die goeie vind; en hy wat op die HERE vertrou, is gelukkig.” Geluk is een van die dinge in die lewe waarna mense werklik sonder ophou soek. Vir baie mense is geluk onbereikbaar. Maar hoekom? Mense verstaan nie geluk werklik nie. Geluk word heeltemal te veel met materiële dinge geassosieer. Party voel dat geluk sal kom met ʼn groter huis en bankrekening wat oorloop. Dat geluk sal kom wanneer ek eers spesifieke mylpale in die lewe bereik het. Maar besittings kan my nie gelukkig maak nie. Besittings kan in ʼn sekere sin net die lewe vir my vergemaklik, maar dit is nie in staat om my gelukkig te maak nie. Sommige mense dink weer dat ʼn lewe sonder beperkende wette geluk kan bring. Hulle dink hierdie vryheid waar ek kan doen net wat ek wil, vir my geluk kan bring. Wat ʼn skewe oortuiging in so ʼn persoon se lewe. Sulke gedrag lei tot baie probleme en uiteindelik tot ʼn val. Jy kan ook geluk soek deur net vir jouself te leef en jou van die wêreld af te sonder. Om jouself in selfsug te isoleer en nie jou medemens en sy nood raak te sien nie. Al wat dan gebeur is dat jy op ʼn stadium in jou lewe gaan kom waar jy ʼn eensame en onvervulde lewe lei. Ware geluk is iets wat in my innerlike wese ontstaan wanneer my gees in harmonie met God en Sy wil is. Slegs wanneer God die middelpunt van my lewe is, kan ek oorvloedige en blywende geluk vind. Geluk is iets wat van binne my gebore word. Slegs wanneer jou lewe deur God beheer word sal jy totale innerlike vrede en volmaakte geluk ervaar. Gebed: Hemelse Vader, leer my hoe om ware geluk te ken deurdat U die middelpunt van my lewe is. Dis ʼn besluit wat ek nou wil neem! In Jesus Naam. Amen.
Posted on: Tue, 27 Aug 2013 05:37:53 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015