Ons wag op die Rooivalk Pieter-Louis Myburgh : Rapport Die - TopicsExpress



          

Ons wag op die Rooivalk Pieter-Louis Myburgh : Rapport Die Rooivalk, Suid-Afrika se peperduur aanvalshelikopter, sou dié naweek vir die eerste keer sy vlerke in ’n oorlogsituasie sprei, maar ’n burokratiese rompslomp verhinder sy ontplooiing in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK). Die twee Rooivalke wat Suid-Afrika beskikbaar gestel het om die Verenigde Nasies (VN) se intervensie-eenheid in die DRK by te staan, moet boonop sonder sy missiele klaarkom omdat daar nie genoeg geld daarvoor is nie. Die VN se departement van vredesendings en grondsteun in New York sloer glo om die memorandum van samewerking vir die helikopters se ontplooiing te onderteken. “Ons mense is gereed om te mobiliseer,” het ’n hooggeplaaste weermagbron aan Rapport gesê. “Die helikopters moes al hierdie naweek soontoe gaan. Ons wag in spanning vir die VN se magtiging.” Die militêre kenner Helmoed-Römer Heitman sê die Rooivalke moet weens begrotingstekorte sonder hul Mokopa-langafstandmissiele klaarkom. Dít stel die bemanning in gevaar omdat hulle nou nader aan hul teikens sal moet vlieg om dit met die Rooivalke se neuskanonne en ongeleide vuurpyle te tref. Die gedugte M23-rebelle, ’n vername teiken van die VN-mag, beskik oor lugafweerkanonne wat die Rooivalke kan teiken, sê Heitman. Selfs hul skouer-gemonteerde vuurpyllanseerders (RPG’s) kan ’n vlieënier onkant betrap. “As jy laag genoeg vlieg, kan ’n rebel met ’n RPG jou met ’n gelukskoot tref, maar dit is baie onwaarskynlik. Die Rooivalk se vlieëniers sal nie sommer so laag en stadig beweeg nie,” sê Heitman. Die Mokopa-missiele het ’n reik­afstand van sowat 8 km en word met ’n laser na hul teikens gelei. Hulle is dodelik akkuraat, sê ­Heitman. “Die missiele is gereed vir produksie, maar daar is nie geld daarvoor nie,” sê Heitman. Volgens hom sou die missiele ideaal gewees het om die rebelle se kanonne uit te wis. ’n Bron wat destyds die Rooivalk help bou het, het bevestig die helikopters is nog sonder hul missiele. Volgens hom is die Rooivalk se ander wapens ook baie akkuraat. Hy sê die VN stuur ’n baie sterk boodskap aan die rebelle met die helikopters se ontplooiing, maar hy maan hulle kan geteiken word. “Die betrokke militêre beplanners moet seker maak die Rooivalk word met die nodige steun aangewend.” Heitman stem saam. “Solank hulle mekaar dek, behoort hulle oukei te wees,” sê hy. Die Rooivalk is rats en sy uitstekende verdedigingsmeganismes tel in sy guns, sê Heitman. Die VN ontken hy sloer met die amptelike goedkeuring. “Die voorbereiding gaan voort volgens die oorspronklike ontplooiingsplan,” sê André-Michel Essoungou, ’n VN-woordvoerder. Hy sê die VN kan Suid-Afrika met tot R150 miljoen per jaar vergoed vir die Rooivalke se diens in die DRK. Die weermag wou nie die Rooivalk se gebrek aan missiele bespreek nie. “Ek behoort jou te vra waarom jy so geïnteresseerd is in inligting wat die lewens van Suid-Afrikaners in gevaar kan stel,” sê brig.genl. Xolani Mabanga, ’n weermagwoordvoerder. Intussen het M23 die afgelope week onderneem om vredesgesprekke met die DRK-regering te hervat.
Posted on: Sun, 08 Sep 2013 09:45:59 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015