Pres. Jacob Zuma lees nie, het Richard Calland, politieke ontleder - TopicsExpress



          

Pres. Jacob Zuma lees nie, het Richard Calland, politieke ontleder en professor in publieke reg aan die Universiteit van Kaapstad, gister in ’n toespraak by die Kaapse persklub gesê. “Dit is nie maklik om met minagting van die president te praat nie, maar die waarheid is dat sy benadering tot bestuur die intellektuele verskraling van instellings aanmoedig. “Dit is nie asof hy nie kan lees nie, hy lees net nie,” het Calland gesê. In teenstelling met Zuma, het oudpres. Thabo Mbeki alles gelees – beleidsdokumente en kabinetsnotules. “Die merkwaardige is dat die ANC ’n leier kon skep wat so anders was. Hulle verskil hemelsbreed – Mbeki het alles gelees. Dit het kabinetslede die heeltyd op hul voete gehou omdat hulle geweet het hulle het ’n president wat op hoogte van alles is. “Die huidige kabinet het bes moontlik meer ruimte. Die probleem is dat Zuma hulle nie rugsteun nie – hulle voel asof hulle die heeltyd op dryfsand is weens onsekerheid of hul poste op die langer termyn veilig is,” het Calland gesê. Hy voorsien dat die 2014-verkiesing baie interessant sal wees. Dis moeilik om te voorspel hoe Julius Malema se EFF sal vaar, maar dit sal waarskynlik stemme by die ANC afneem. AgangSA sal volgens hom hoogstens 3% van die stemme kry omdat sy leier, dr. Mamphela Ramphele, nóg die dissipline en vaardigheid, nóg die persoonlikheid het om ’n party te lei. Calland, wat in die middel 1990’s deur Ramphele gewerf is om by Idasa te werk, het gesê Suid-Afrika het ’n belangrike, onafhanklike, geloofwaardige stem van kritiek verloor. “Ek sê dit met alle respek, maar sy het ’n baie groot fout gemaak om die formele politiek te betree.”
Posted on: Fri, 27 Sep 2013 05:49:01 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015