BRANDPUNT Rubriek: RDK-kaping en absolutisme GERT COETZEE : - TopicsExpress



          

BRANDPUNT Rubriek: RDK-kaping en absolutisme GERT COETZEE : Volksblad ‘IN die vorige bedeling het die minister van justisie sonder uitsondering wit, manlike senior advokate (as regters) aangestel. Die minister se aanstellings was meestal graduandi van Afrikaanssprekende universiteite, lede van die Nasionale Party of die geheime Afrikaner-Broederbond en ondersteuners van apartheid. Die meeste het politieke mag gehad. “Ondanks hul agtergrond, het sommige van hulle ’n sterk aanvoeling vir geregtigheid gehad . . .” Só skryf adv. George Bizos, SC, struggle-advokaat (onder meer in die Rivonia-hofsaak) en menseregte-stryder, in sy outobiografie Odessey to Freedom in die hoofstuk “Judging the judges” oor die aanstelling in 1994 van die grondwethof se eerste lede. Bizos, ’n Nelson Mandela-benoemde in die eerste Regterlike Dienskommissie (RDK), skryf voorts dat die instelling van die RDK ’n “sterk reaksie teen apartheidspraktyke” sou wees. Voorts sou die prosedure vir die aanstelling van regters voortaan radikaal verskillend wees. Ingevolge die Grondwet sou “die behoefte dat die regbank in die breë die rasse- en geslagsamestelling” voortaan vir die aanstelling van regterlike beamptes oorweeg moes word. Bizos wys ook daarop dat die grondwethof die finale beskermer van die handves van menseregte en die “beskerming van elke individu teenoor die staat” moet wees. Hy haal ook vir Mandela aan wat aan die nuwe regters gesê het die toekoms van demokrasie in Suid-Afrika berus op die werk van die grondwethof. Die taak van die hof is om die waardes van vryheid en gelykheid te koester en te beskerm, sodat hulle bly voortleef. En die regters moet aan hul ampseed getrou bly, het Mandela onder meer gesê. Asook: “Almal van ons is trou verskuldig aan dieselfde opperwet en die beginsels daarvan. . .” As ’n “individu” wat deur die grondwethof teen die staat beskerm moet word, lees ek in bogenoemde ook dat skeiding tussen die regbank en die politiek ononderhandelbaar is. In 1994 was daar slegs drie swartes en twee vroue onder die sowat 170 Suid-Afrikaanse regters. Nou is dit die jaar 2013 en is daar 70 vroue en 90 wittes onder die sowat 250 regters. Uitstekende vordering dus, veral as aandrang op die gehalte van regslui in ag geneem word. Dít stel nie hoofregter Mogoeng Mogoeng en die RDK tevrede nie. Transformasie is hul dryfveer en die raskaart hul troef as kritici hul ras-agenda – en diskriminasie met RDK-aanstellings – blootlê. Regter Mogoeng, ’n geseënde lidmaat van die vreemde Winners Chapel International Church, het ’n “teken” gekry hy gaan Suid-Afrika se nuwe hoofregter wees. En toe stel pres. Jacob Zuma hom jou so wrintie- en gedoriewaar aan. In sy eie woorde kry die aanstelling van “die bestes van die beste (regters)” nie voorkeur bo transformasie nie. Pleks van voortreflike regspleging, ingevolge grondwetlike regswaardes. In onlangse Volksblad-artikels het oudregter J.J.F. Hefer die gevaar uitgewys as die geloofwaardigheid van die regbank in die slag bly en regsman Daan Nortier het geskryf oor die aspekte van gewete, integriteit, werksetiek en morele gesag, sodat die land se burgers onvoorwaardelik op die howe sal vertrou. Transformasie móét en hét geskied. Maar Mogoeng en die RDK sê die regtersbank móét swart wees, ongeag gehalte. Pleks dat regspleging eerste kom Dít gebeur as die politiek die regbank kaap. Nou het ons nie die wet volgens die Grondwet nie, maar die wet volgens regter Mogoeng. Wat in die finale instansie die wet volgens die ANC, en veral Jacob Zuma, is. Dit ruik na absolutisme. Suid-Afrika het nié so gevorder as wat Bizos en Mandela wou hê nie. Waar laat dit die beskerming van individue deur die reg, as sommiges ’n wet op hul eie is?
Posted on: Thu, 11 Jul 2013 08:37:29 +0000

Trending Topics



ELLIGENT-Are-you-a-proud-citizen-of-topic-536219403179453">Are you BEAUTIFUL? Are you INTELLIGENT? Are you a proud citizen of
ACTION ALERT *** ACTION ALERT *** ACTION ALERT COPY PRINT PASTE

Recently Viewed Topics




© 2015