By meer as een geleentheid het ons al gepraat oor vergifnis en wat - TopicsExpress



          

By meer as een geleentheid het ons al gepraat oor vergifnis en wat die voordele daaraan verbonde is. Gister het ek weer gekyk na die film “Faith like potatoes” wat die lewens verhaal van Angus Buchan vertel, en ek kan net verwonderd staan oor die getuienis wat straal uit die lewe van hom. Die een deel uit die film wat my altyd nog by gebly het en weer elke keer uitstaan wanneer ek daarna kyk is die vergifnis wat Angus ontvang het van God en van sy broer nadat hy oor die seun van sy broer gery het met n trekker, en wat daarmee saam gegaan het is die verdraagsaamheid van die mense en die liefde in die familie wat op die einde geseëvier het. Sonder vergifnis kan daar nie verdraagsaamheid en liefde wees nie, dit is ‘n kardinale deel van oorleweing in gees en vlees, as ons dit nie kan deurtrek in ons daaglikse omgang nie het ons niks om voor te leef nie. Net om weer die beginsel van vergifnis aan almal te verduidelik voor ons verder gaan, om in totaal te kan vergewe en vergifnis te ontvang, moet jy eers bewus wees daarvan dat dit wat jy gedoen het verkeerd is, dan moet jy dit wat verkeerd is bely voor God en teenoor die mens wat jy verontreg het, want sonder ‘n beleidenis kan nie die Here of die mens wat verontreg was sien dat jy in berou oor jou dade staan nie, nadat jy belei het kan jy vra vir vergifnis en dit is joune, maar onthou ook dit, die voorwaarde van vergifnis is dat jy moet heengaan en nie weer sondig nie. Daar is baie mense wat nie in die konsep van vergifnis glo nie, maar kom ons wend ons tot die Bybel en kyk wat die voorskryf is wat deur die Here aan ons gegee word rakende die onderwerp. Mar 11:22-26 (22) Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê. (23) Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see—en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur—hy sal verkry net wat hy sê. (24) Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry. (25) En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe. (26) Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie. Hier sien ons dat wanneer ons nie vergewe nie, ons ook nie vergewe kan word nie, en as ons nie vergifnis vra nie, sal ons dit ook nie ontvang nie, nie op die aarde nie en ook nie in die hemel nie. Wanneer vergifnis gedoen is of gevra word, kom die moeilike deel, en dit is die deel waar geweldig baie mense platval en die genade van die Here verloor. Daardie deel is om verdraagsaam te wees. As jy iemand vergewe het moet jy nie die normale tendens volg en die persoon nooit in jou lewe weer te wil sien nie, ons moet verdra en liefde betoon, want sonder liefde kan ons nie genade betoon nie en staan ons nie binne die wil van die Here nie. Daar is niemand wat meer reg het as Hy om die totale skepping te vernietig nie. Die mense het Sy Seun onskuldig aan ‘n kruis laat sterf. Dit was wel die loop wat sake moes neem om die profesië en die profete to vervulling te bring, maar nog steeds was die einde aan die Seun se lewe wreed en vernederend. As God dan kan vergewe, verdra en lief wees na dit wat ons as mens Jesus aangedoen het, wie is ons om nie dieselfde genade aan ons medemens te bewys nie? Luk 9:38-41 (38) En daar roep ‘n man uit die skare en sê: Meester, ek bid U, kyk tog na my seun, want hy is my enigste. (39) En kyk, ‘n gees gryp hom, en meteens skreeu hy, en hy laat hom stuiptrekkings kry met skuim in die mond en gaan amper nie van hom weg nie en verniel hom. (40) En ek het u dissipels gebid om hom uit te drywe, en hulle kon nie. (41) Toe antwoord Jesus en sê: o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier. Vir drie jaar het Jesus tussen die mense gewandel, onderrig gegee, siekes genees, duiwels uitgedryf, dooies lewend gemaak en nog baie meer, en wat was die uiteinde? Met dit alles was die mense nog steeds in ongeloof en moes Jesus hulle verdra, want Hy het nie gekom om die mense te oordeel nie, maar om die ongelowiges tot bekering te bring en om die wêreld van sondes te bevry. Hoe verdraagsaam is ons vandag? In ons skole word leerlinge wat nie so vatbaar vir onderrig is soos ander nie geignoreer, in die kerke word diegene wat nie met die klap van n vinger die Evangelie wil aanvaar nie eenkant toe geskuif en word die aandag toegespits op die wat in valsheid hulle sogenaamde redding verkondig. Ons gaan elke dag uit op die straat en keer mense die rug toe, want hulle is nie soos ons nie en hulle het ons op die een of ander stadium te na gekom of het gedoen wat ons in n slegte lig gestel het of wat ons nie tot voordeel was nie. 1Kor 9:7-14 (7) Wie dien ooit as soldaat op eie koste? Wie plant ‘n wingerd en eet nie van sy vrug nie? Of wie pas ‘n kudde op en geniet nie van die melk van die kudde nie? (8) Sê ek dit miskien menslikerwys, of sê die wet dit nie ook nie? (9) Want in die wet van Moses is geskrywe: ‘n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer? (10) Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word. (11) As ons vir julle die geestelike gesaai het, is dit ‘n groot saak as ons julle stoflike goed maai? (12) As ander deel het aan die reg op julle diens, het ons nie nog meer nie? Ons het ewenwel nie gebruik gemaak van hierdie reg nie, maar ons verdra alles om geen hindernis vir die evangelie van Christus te veroorsaak nie. (13) Weet julle nie dat die wat met die heilige dinge werk, uit die heiligdom eet nie; en dat die wat by die altaar besig is, met die altaar deel nie? (14) So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe. Wat is daar wat ons vandag verdra vir die saak van die Evangelie, en vir die saak van die mense om ons? Is ons nie maar vandag nog steeds vasgevang in dieselfde waarde stel as die mense van die eerste gemeentes nie, is ons nie maar vandag nog steeds in die proses van “kyk my asseblief mis” soos die mense van die vroeë gemeentes was nie? Wanneer gaan ons wakker word? Wanneer gaan ons opstaan en erken dat ons ‘n swakheid het, dat ons nie kan verdra nie, dat oordeel makliker is? Rom 3:23-26 (23) want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, (24) en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. (25) Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God (26) om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. Dieselfde Bybel waar hierdie tekste vandaan kom sê ook vir ons die volgende: 1Joh 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. En die beste deel hiervan is dat wanneer die Here hierdie vergifnis aan ons toegestaan het, draai Hy nie Sy rug op ons nie, nee, Hy raak ons aan, Hy reinig ons, Hy stuur Sy engele om oor ons te waak, Hy versorg ons en Hy dra ons deur die storms van elke dag. Hy het ons lief, ongeag van wat ons aan Hom gedoen het, en dit is presies wat Hy verwag dat ons as mens aan diegene om ons moet doen en bewys. Ek wil julle nou los met ‘n teks gedeelte vir oordenking, kyk wat die betekenis van hierdie gedeelte vir jou inhou en maak dit jou eie, deel dit met digene om jou en deel die betekenis wat dit vir jou inhou met almal wat daarna wil luister, en ook met digene wat nie wil luister nie. Ons weet dat die Evangelie daar gestel is vir almal om na te luister, doen dan nou jou deeltjie en deel die betekenis van die Evangelie met almal, dit is die wil van die Here, dit is wat Hy van ons verwag, en doen dit met liefde en oortuiging, as jy dit met minder gaan doen sal jy wees soos ‘n getuie sonder ‘n stem, dood vir die Evangelie en verlore vir die koninkryk van die Hemel. Joh 3:14-17 (14) En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, (15) sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. (16) Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. (17) Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
Posted on: Sun, 20 Oct 2013 09:20:15 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015