EILANDBEKORING op JERSEY Mev Hannah Kotzé, kollega van - TopicsExpress



          

EILANDBEKORING op JERSEY Mev Hannah Kotzé, kollega van Dankbaar CVO se dae, het by haar seun en gesin op die eiland Jersey in die Engelse Kanaal gekuier. Onderstaande is haar indrukke van die eiland - duidelik het dit haar deeglik bekoor. Dit was aangenaam om haar indrukke te kon meemaak en ek hoop ander FB-korrespondente sal dit ook geniet. Hallo Louis, Ek het beloof om jou meer van hierdie eiland te vertel. Hier kom dit! Jersey is ‘n baie interessante eiland, geleë 22 km van die kus van Frankryk. Jersey is 5 x 9 myl (dit is hoe hulle hier praat). Op die internet lees ek dat Jersey 10 x 16 km is (16 km van oos na wes, en 10 km van noord na suid). Kuslyn om is Jersey 70 km – relatief ‘n baie klein eiland. Ek het aan my suster verduidelik dat Isle Of Wight so groot soos die nael van my duim is, terwyl Jersey so groot soos ‘n koppiespeld se kop is. Toe ek dit aan my seun vertel, het hy maar net geglimlag. Jersey behoort eintlik nie aan Engeland nie, is wel ‘n Britse ‘kolonie’ (haha!) Britse kroonbesit. Hulle het hul eie geldstelsel en noem dit ook ponde en ‘pence’ of meerendeel praat hulle net van p (hoe die letter p in Engels uitgespreek word), met dieselfde waardestelsel as Brittanje. Die eiland staan bekend as ‘States of Jersey” of liewer dit staan op hul geldnote. Jersey is nie deel van die Europese Unie nie. Brittanje is wel verantwoordelik vir die verdediging van Jersey. Hulle praat van die kanaaleilande wat dan ook beteken dat daar ‘n ‘common travel area’ tussen hierdie eilande is m.a.w. die inwoners van hierdie eilande reis sonder paspoort maar moet wel bewys van identiteit kan toon. Die eilande is die Rep. van Ierland, Brittanje, Jersey, Guernsey en Isle of Man. Op Isle of Man woon Mark S. Verdere inligting het ek self hier op Jersey beleef. Die paaie is plek-plek net enkelpaaie. Indien daar ‘n motor van voor af kom, moet een uit die pad uit beweeg (gewoonlik doen my skoonsuster dit dadelik – al gaan dit moeilik!!) Tog is daar tweerigting paaie maar redelik smal – dan praat ek nie eens van die enkelpaaie nie. Daar is oor die algemeen hoë klipmure langs die paaie, of anders is dit lanings bome. Plek-plek groei die bome so dat hulle takke bo aan mekaar raak en is dit soos ‘n tonnel waardeur jy ry. Toe ek hier gekom het, was die wêreld oral pragtig groen, maar noudat dit winter is, het die bome verkleur, baie is al kaal en die winter voorkoms is oral merkbaar. Dit is maar baie koud hier, maar a.g.v. huisverhitting weet jy net van die koue as jy na buite gaan. Weersomstandighede is hier veel beter as op Isle of Wight waar my seun en sy gesin vir twee jaar gewoon het. By enkelpaaie gee die fietsryers en voetgangers nie pad nie. Die motors ry agter so ‘n fietsryer of voetganger totdat die geleentheid daar is om verby te kan gaan. Ek kon my oë nie glo nie. ‘n Verdere lastigheid is die ingange van kleiner paaie na die “main road”. Ek noem dit maar soos wat dit hier genoem word, want die ‘main road’ is niks breër as die gewone tweerigting paaie nie. A.g.v. die klipmure of lanings bome kan jy nie sien om in die ‘main road’ in te draai nie. Jy kruip soos ‘n trapsuutjies totdat jy seker is daar is nie aankomende verkeer nie. Hoofweg klink net eenvoudig nie reg nie. Verder is die ou geboue almal van klip gebou (het al gewonder waar kry hul al die klip). Bokant die deur van ‘n restaurant waar ons was, staan 1606. Rondom hul kerkgeboue is grafte, baie grafte, reg rondom die kerkgeboue. Die grafte wat ek gesien het by ‘n kerk nie ver van ons af nie, dateer van 1922 tot selfs 1988. Jersey het aanvanlik aan Frankryk behoort. Tydens die wêreldoorloë het Engeland Jersey beset. Op ‘n stadium het Engeland Jersey vir Duitsland gegee. Toe behoort die eiland weer aan Engeland. Tans behoort hy aan homself!! Wat interessant is, is dat die straatname steeds Frans is bv. my seun woon in ‘Rue de la Forge’. ‘n Paar voorbeelde is Rue de Payn, La Verte Rue, Rue de Pavillon, Les Routeurs. Daar is ook name in Engels, bv. Church Lane, maar die Franse name kom baie, baie meer voor. Suid-Afrika kan gerus hier kom leer om nie ‘n land se geskiedenis deur naamsverandering uit te wis nie. Hulle boer hier net met die Jersey beeste, maak hul eie melkprodukte, groente ens. Hulle is nogal baie trots op al die Jersey voedsel produkte wat in hul winkels verkoop word. Verder kan ek jou sê dat dit baie duur is om hier te leef! Ek het vir my twee botteltjies toiletware gekoop (200ml en 150ml). Dit saam kos R75 + R45 bankkoste. Elke kredietkaart transaksie kos R45. Toe was die Rand/pond verhoudinge R16,54 op ‘n pond. Vandag was dit al R16,64. Jersey hou hul eie verkiesings, het ‘n staatshoof (noem dit iets heel anders, kan nie onthou nie, maar vir my ‘n vreemde benaming) en het ook hul eie ministers. My skoondogter wat ‘n psigiater is, het al met die minister van gesondheid te doene gehad.
Posted on: Sun, 01 Dec 2013 20:14:20 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015