‘Enkelma’s byt spit af’ Vrou baklei oor geld vir - TopicsExpress



          

‘Enkelma’s byt spit af’ Vrou baklei oor geld vir skool PHILIP DE BRUIN : Beeld Donderdag 27 Junie 2013 Dit is ongrondwetlik en diskriminerend teen enkelma’s dat hulle alleen vir hul kind se skoolgeld moet opdok omdat die pa die land vol flenter en niks wil betaal nie. So voer Margaretha Meeding van Sasolburg aan in ’n aansoek om appèl wat gister by hoofregter Mogoeng Mogoeng in die konstitusionele hof ingedien is. Die geding kan potensieel duisende enkelouers raak wat nie geldelike hulp van die biologiese pa of ma van die kind kry nie. Meeding het haar seun by die Hoër Tegniese Skool Sasolburg ingeskryf. Ondanks haar egskeidingsbevel wat bepaal dat haar eksman, J.C. Taljaard, ál die kind se skoolgeld moet betaal en ondanks die feit dat sy dié hofbevel op die inskryfvorm ingevul het, het die skool haar ná twee jaar gedagvaar vir die skoolgeld. Omdat sy weet dat haar eksman kort-kort “sy wortels uittrek” sodra sy hom opgespoor het, het sy in die twee jaar elke maand die helfte van die kind se skoolgeld betaal. Desondanks het die hooggeregshof bevind dat sy nou ook haar eksman se deel van die skoolgeld moet betaal omdat sy ingevolge art. 40 van die Skolewet as inskrywende ouer van die kind vir die skoolgeld verantwoordelik is. Meeding sê in haar hofstukke by Moegoeng art. 40 is uiters diskriminerend omdat sy as enkelouer nou vir haar eksman se wanbetalings aanspreeklik gehou word, bloot omdat sy haar kind by die skool ingeskryf het. Daar word van haar verwag om benewens die volle skoolgeld ook baie uitgawes aan te gaan om die geld van haar eksman terug te eis. Die skool doen niks om haar te help om die man op te spoor en die geld van hom te verhaal nie – dit is háár plig. Sy weet egter dat hy vlug sodra sy hom opspoor, maar ás sy kom kan vaspen, moet sy dan die uitgawes van ’n duur hofsaak aangaan om die geld uit hom te kry. Sy sê art. 40 is dus ongrondwetlik. Mogoeng oorweeg die aansoek.
Posted on: Thu, 27 Jun 2013 09:49:50 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015