GER-JEE GEYSER: VOLKSBLAD 30 SEPTEMBER 2013 Eks-verslaafde - TopicsExpress



          

GER-JEE GEYSER: VOLKSBLAD 30 SEPTEMBER 2013 Eks-verslaafde ‘nou nuwe mens’ Presteer as liggaamsbouer ná ommekeer deel 7 twiet 1 E-pos kommentaar MOLLY GREEN Maandag 30 September 2013 PRETORIA. – Van ’n oorgewig alkoholis van 150 kg tot ’n skraal heroïen-verslaafde van 83 kg. Dít is die paadjie wat Gerjee Geyser (33) gestap het. Nou spog dié eens uitgewekene van die samelewing met ’n gespierde liggaam wat mense met bewondering aanstaar. Hy het vanjaar vir die eerste keer aan liggaamsbou-kompetisies begin deelneem en het onlangs op die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Durban die derde plek in die super-swaargewigafdeling (bo 110 kg) verower. Geyser se probleme het reeds begin toe hy op laerskool was. Sy pa het ’n drankprobleem gehad en “ek het saam met hom gedrink.” Op hoërskool het dit al hoe erger geraak. Hy was ’n volslae alkoholis. Ná matriek is Geyser Engeland toe, waar hy met sterk dwelms kennis gemaak het. “Vir ses jaar het heroïen my lewe oorheers. Ek het op straat gebly. Ek het gesteel, was in die tronk en het dit ernstig oorweeg om selfmoord te pleeg.” Sy eerste vrou was ook ’n dwelmverslaafde. Geyser sê familieprobleme en verkeerde vriende het tot sy probleem bygedra. As kind was alkohol vir hom ’n ontvlugting. “My pa het my toegelaat om te doen wat ek wil.” Gelukkig het sy ouers (sy pa drink nie meer nie) later besef hoe sleg dit regtig met hom gaan. Hulle het hom oorreed om vir rehabilitasie te gaan. Hy was van Oktober 2008 vir twee jaar in ’n sentrum in Margate. “Die enigste radio wat daar was, was waar die ouens met gewigte geoefen het. Ek het saans daar gaan sit om musiek te luister. “Hulle sê toe ek moet saam oefen. Ek het gewiggies op en af gestoot. Daar was naderhand knoppies (spiere) wat voorheen nie daar was nie.” Nadat hy ontslaan is, het hy weer ’n terugslag gehad. Hy was toe vir twee maande in ’n rehabilitasie-sentrum in Nelspruit. “Ek het daar tot bekering gekom en my lewe het heeltemal verander.” Voordat hy en sy tweede vrou, Marisa, getroud is, het hulle by haar ouers op ’n plaas naby Thabazimbi gebly. “Dit was vir my lekker om net te ontspan en om te oefen.” Die paartjie en hul twee kinders, Mienke (3) en Maurits (20 maande), bly nou in Pretoria, waar hy by ’n gimnasium aangesluit het. Einde Julie het Geyser vir die eerste keer aan ’n liggaamsbou-kompetisie deelgeneem, maar nie ’n plek gekry nie. In die volgende kompetisie het hy derde geëindig en in die Rossi Classic in Centurion was hy tweede in sy afdeling. Hy het vir die WFS Suid-Afrikaanse Liggaamsbou-kampioenskap gekwalifiseer en in Durban derde geëindig. “Ek is nou ’n nuwe mens. Ek het ’n nuwe lewe wat voor my lê. Dít is iets waaroor ek baie dankbaar is.”
Posted on: Tue, 01 Oct 2013 07:10:45 +0000

Trending Topics




© 2015