KOMMENTAAR Hoofartikel: Wie sit agter - TopicsExpress



          

KOMMENTAAR Hoofartikel: Wie sit agter Dramat-klagte? Volksblad IS dit bloot toevallig dat die Valke-hoof, Anwa Dramat, hom midde-in ’n storm bevind oor sy beweerde betrokkenheid by die onwettige uitlewering van Zimbabwiese verdagtes? Verlede week het dit aan die lig gekom dat Dramat moontlik in hegtenis geneem kan word daaroor. Dit kom nadat lede van die Valke onlangs strafregtelike klagte aanhangig gemaak het teen adv. Lawrence Mrwebi, hoof van die nasionale vervolgingsgesag se handelsmisdaadeenheid, oor sy hantering van die saak teen lt.genl. Richard Mdluli. Mdluli is die geskorste hoof van misdaadintelligensie wat beskuldig word van die grootskaalse plundering van ’n geheime intelligensiefonds. Die hooggeregshof in Pretoria het onlangs bevind Mdluli moet ook weer van moord aangekla word. Die Valke beskuldig Mrwebi van dwarsboming van die gereg oor sy weiering om Mdluli van korrupsie aan te kla. Die saak is voorheen aangevoer deur adv. Glynnis Breytenbach voordat sy geskors en daarna onskuldig bevind is op al 15 tugklagte teen haar. Sy is steeds nie terug in haar pos nie. Dramat was tot dusver rotsvas in sy benadering van die Mdluli-saak. Ondanks enorme politieke druk om Mdluli (’n openlike lojalis van pres. Jacob Zuma) te beskerm, het Dramat sy ondersoekers beskerm en aangemoedig om die misdaadintelligensiehoof behoorlik te ondersoek. Nou is sy kop skielik op ’n blok. In ’n onderhoud met die Mail & Guardian Vrydag sê genl.maj. Shadrack Sibiya, die Gautengse hoof van die Valke, dat hy en Dramat deur misdaadintelligensie geteiken word weens hul ondersoek na Mdluli. Die Mdluli-saak het die potensiaal om ons reeds geteisterde polisiemag verder in die skande te steek. Aan die een kant is daar Dramat en sy Valke wat korrupsie in eie boesem probeer bestry. Aan die ander kant is genl. Riah Phiyega en die NVG-hoofde wat Mdluli soos ’n BBP behandel.
Posted on: Mon, 21 Oct 2013 21:44:49 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015