Nuwe seisoene Quintus Heine Elke ding het ʼn vaste tyd. Prediker - TopicsExpress



          

Nuwe seisoene Quintus Heine Elke ding het ʼn vaste tyd. Prediker 3:1 Septembermaand is lentemaand. Hoewel die weer nog nie heeltemal gedraai het nie, is daar ʼn opgewondenheid in die natuur vir die nuwe seisoen wat wag. Die twee bome in ons voortuin het ‘n ligte groen skynsel van nuwe blaartjies en botsels. Voëltjies sing uit volle bors. Die nuwe seisoen is hier! Soms praat mense van ʼn nuwe seisoen in hulle lewens. Dan bedoel hulle ʼn nuwe fase van die lewe. Hulle het dalk ʼn nuwe werk begin, of daar was dalk ʼn verandering in hulle gesin. Soms is dit as mense ʼn nuwe voorneme oor ʼn lewenstylverandering het. Jy besluit dalk jy wil gesonder eet, fikser leef, meer gereeld jou Bybel lees en bid. As mense verwys na ʼn seisoen in hulle lewe, verwys hulle gewoonlik na ʼn sekere fase van die lewe. Iemand vertel my dat hy nou in ʼn seisoen van toewyding ingaan, want hy wil meer en meer moeite doen om nader aan die Here te leef. Hy wil van nou af moeite doen om die verkeerde dinge in sy lewe uit te sorteer. Iemand anders wil ʼn seisoen van gebed binnegaan. Daarmee wou sy meer erns maak met gebed. As die lenteseisoen daarbuite begin is dit ʼn goeie tyd om weer na te dink oor die rigting en doel van jou lewe. Die begin van September is ʼn goeie tyd om weer voor die Here stil te word en jou geestelike seisoen te oordink. Dit is dalk tyd vir ʼn nuwe begin in jou lewe. Dalk het die winter te lank aangehou en jy het te lank by slegte gewoontes stilgestaan - dan is dit tyd vir ʼn nuwe seisoen om die Here weer met nuwe ywer te dien. Daar is nie ʼn beter tyd om ʼn nuwe seisoen in jou lewe te begin as “nou” nie. Gebed: Here, Help my om voordurend nuut te dink oor my geestelike lewe. Help my met ʼn “weer begin”! Amen
Posted on: Mon, 02 Sep 2013 06:10:21 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015