Or else? AKTUEEL Ope brief aan Steve Hofmeyr: Hou - TopicsExpress



          

Or else? AKTUEEL Ope brief aan Steve Hofmeyr: Hou jou bek van ons swartes af Vrydag 31 Oktober 2014 3:20 vm. Jy ken nie apartheid nie, jy ken nie die seer nie, so stop jou twak of pak op en trek, skryf Virginia Keppler in ’n ope brief aan Steve Hofmeyr. Beste Steve Jy sal nooit weet wat apartheid aan die swart eienaars van dié pragtige land van ons gedoen het nie. So dalk is dit tyd dat jy jou mond hou en jou twak stop om die handjievol rassiste wat nog aan jou lippe hang op te sweep en rassehaat aan te vuur. Jy behoort jou te skaam! Ons is al 20 jaar in demokrasie, 20 jaar van vryheid! Jy is bleddie verkeerd en ’n parasiet wat teer op die handjievol se vrese! Ek en miljoene mense in die land is moeg vir mense soos jy en al die verkrampte regses wat ons in hul binnekamers en om hul braaivleisvure beledigende en rassistiese name noem. Net ’n gek sal sê swart mense is die argitekte van apartheid. Waar op dees aarde kom jy aan dié simpel gevolgtrekking? “ WAT WEET JY VAN IN DIE STRAAT LOOP OMDAT DIE SYPAADJIE NET VIR DIE WITTE IS? WEET JY HOE DIT MOES VOEL OM JOU TROUROK TE KOOP SONDER OM DIT AAN TE PAS? SKOENE MET ’N STUK WOL TE MEET WANT JY MAG DIT NIE AANPAS NIE? ” Jy weet niks van wat apartheid aan ons gedoen het nie. Jy ken nie die seer nie. Jy ken niks. ■ ■ ■ Steve, ek wil nou hê jy moet mooi vir my luister. Wit, swart, bruin en Indiër het saam gejuig toe Nelson Mandela vrygelaat is. Dit was die dag toe apartheid op sy knieë gedwing is. In dié land is ons een. Ons leef saam, ons werk saam, ons kinders loop saam skool, ons is vry. As dit nie meer vir jou lekker is hier in die sonnige Suid-Afrika nie, pak op en trek. As dit te swart is en as daar te veel wit mense is wat nie met jou saamstem nie, laat jy gestap raak, boetie. Ons was baie lank onderdruk en is bevry. Ons weier dat jou niksseggende uitlatings ons gaan laat voel dat ons – en ek sê “ons” omdat ons swart is – vuil en sleg en dom is en net goed genoeg is om kombuiswerk en tuinwerk vir jou en diegene wat dieselfde dink en voel soos jy te doen. Daai dae is verby. Jy en jou klein groepie aanhangers, julle staan alleen in die land. Wat weet jy van swart wees? Wat weet jy van in die straat loop omdat die sypaadjie net vir die wit mens is? Weet jy hoe dit moes voel om jou trourok te koop sonder om dit aan te pas? Skoene met ’n stuk wol te meet, want jy mag dit nie aanpas nie? Weet jy hoeveel nie-blankes het met groot skoene geloop? Wat weet jy hoe dit voel om ’n k***** genoem te word, ’n m***? Wat weet jy, Steve? Weet jy hoe dit gevoel het om vis en tjips te koop en dit by die huis te gaan eet, want ons kon nie in restaurante sit nie omdat ons swart is? Ek weet, want ek was daar. Weet jy hoe dit voel om meer as 20 jaar nie te weet waar jou kind hom in ballingskap bevind nie? Hoe dit voel om nie te weet waar jou kind se lyk lê nie? Nie te weet waar jou pa vermoor is en in ’n onbekende graf gebliksem is nie? Waar was jy in 1976? Waar was jy toe Winnie haar swart kleinkind op haar rug onder komberse weggesteek het om aan Nelson Mandela op Robbeneiland te gaan wys? Waar was jy toe ons land van ons afgevat is en ons na townships ver van die stad verban is? Jy weet niks nie. Waar was jy in 1956 toe 20 000 vroue ’n veldtog begin het om ’n einde te bring aan die paswette? Ons moes mos “pas” om te bewys dat ons wettig in ’n bepaalde gebied wat vir wit mense opsy gesit was, kon ingaan. Imagine, ons kon nie eens vry loop in ons eie land nie . . . ■ ■ ■ Jy, Steve, gaan vra Sophia Wil­liams- de Bruyn wat is guts en wat is dit om ’n ruggraat te hê. Hofmeyr in 2012 op Kerkplein in Pretoria tydens ’n AfriForum-optog teen plaasaanvalle. Foto: Lisa Hnatowicz “ MAAK VREDE MET ONS, STEVE. ONS KOM DEUR HEL EN ONS STAAN NOG VAS. ONS HET NOG DIE LIEFDE IN ONS HARTE OM TE VERGEWE. ONS IS STERK MENSE MET GOEIE WAARDES. ” Dit is jammer dat jy so min selfvertroue het en so geïntimideer voel om tussen ons swart mense te woon. Onthou volgende keer as jy na ’n restaurant toe gaan, die stoel waarop jy sit, daar het ’n swart man voor jou gesit, die bord waaruit jy eet, ’n swart man het ook daaruit geëet. Die vurk en lepel wat jy in jou mond druk, dit was in die swart man se mond voordat jy dit in jou mond gedruk het. Dit is net in seep gewas. Maak vrede met ons, Steve. Ons kom deur hel en ons staan nog vas. Ons het nog die liefde in ons harte om te vergewe. Ons is sterk mense met goeie waardes. Daar is nie plek vir nog ’n tweede Hendrik Verwoerd nie. Nie eens Eugène Terre’Blanche het so laag soos jy gedaal nie, sies! Eugène het nie twee tonge gehad nie. Die ergste is dat baie rassiste se kinders steeds deur swart vroue, ons ma’s, grootgemaak word. Hulle abba jul kinders op hul rûe, soen hulle, druk hulle en hou hulle veilig terwyl hul eie kinders stoksielalleen in die township sonder ’n ma moet grootword. Hier is ons goed genoeg, nè? En Steve, net soos wat die wit mense onder misdaad deurloop, so loop al die ander inwoners van die land ook deur. Misdaad ken nie kleur nie. En misdaad raak in elk geval die meeste swart mense, Steve. Is wit mense dan miskien die argitekte van misdaad in die land? Hoor mooi wat ek vir jou sê, Steve, nie jy of enigiemand daarbuite sal dit regkry om my of enige ander swart mens minderwaardig te laat voel nie. Gaan soek eerder die liefde van Jesus en maak jou hart oop. Dalk sal jy vrede kry en nie so bitter wees nie. Ek dink in elk geval jy moet jou uit die politiek hou. Ek weet jy probeer jouself relevant hou vir jou ondersteuners, maar om hulle op te sweep is laag en gemeen en rassisties. Soos ons in die township sê: Sharrup man en hou jou bek van ons pragtige swart mense af. Ons is gemaklik in ons swart vel. ■ Virginia Keppler is Beeld se nuusredakteur in Pretoria. netwerk24/stemme/2014-10-31-hou-jou-bek-van-ons-swartes-af
Posted on: Sat, 01 Nov 2014 08:27:28 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015