POTGIETER MOET SPIES SE SKOENE VUL Bulle se diepte gepeil MARCO - TopicsExpress



          

POTGIETER MOET SPIES SE SKOENE VUL Bulle se diepte gepeil MARCO BOTHA : Beeld PRETORIA. – Vir Dewald Potgieter is die Bulle soos ’n masjien. En masjiene het onderdele wat soms onwillekeurig vervang moet word. “Pierre was egter nie net ’n vonkprop nie,” het Potgieter gesê toe hy die Bulle se kapteinskap gister by die beseerde Pierre Spies oorgeneem het. Tog moet die Blou Masjien sy momentum van sewe agtereenvolgende Superrugby-seges Saterdag hier op Loftus teen die Southern Kings volhou – “elke senior speler sal in Pierre se afwesigheid ’n trappie boontoe moet gee,” het die nuwe tropleier benadruk. Maar ná wat die Bul-breier, Frans Ludeke, beskryf het as hul “slegste seisoen tot nog toe wat beserings betref,” is hy genoop om agt veranderinge te maak aan die beginspan wat die Cheetahs net voor die toetsonderbreking getroef het. Maar, benadruk hy: “As jy in Superrugby week ná week mededingend wil bly, moet jy diepte hê. “En ek het die volste vertroue in die ouens wat inkom. Hulle is die manne op wie ons nou staatmaak,” het die breier gesê. Die Bok-toetse het Jano Vermaak (dyspier), Pierre Spies (biseps, ses maande) en Arno Botha (knie, 10 maande) geëis. Gevolglik skuif Dewald Potgieter na agtsteman en Jacques Potgieter na seweflank, terwyl Deon Stegmann op ses bly. Die Tuks-kaptein, Jono Ross, sal sy Super-buiging maak indien hy as agtsteman van die bank af speel. Grant Hattingh dra die nr. 5-trui, met Juandré Kruger op die bank. Hierdie wedstryd sal in alle waarskynlikheid Kruger se laaste vir die Bulle wees voor hy volgende week Frankryk toe gaan. Ludeke het daarop gewys dat hy Hattingh op vyf wil begin terwyl Kruger nog daar is. Agterlangs sal ook Wynand Olivier sy laaste wedstryd speel. Hy vertrek die naweek al na Montpellier in Frankryk nadat hy Saterdag vir die eerste en laaste keer saam met Jan Serfontein speel. Morné Steyn en JJ Engelbrecht kry vanweë hul toetsverpligtinge ’n blaaskans op die plaasvervangersbank. Intussen is Francois Hougaard onverwags gou terug op skrumskakel nadat hy sy knie onlangs beseer het. Louis Fouché is sy skakelmaat, en die agterste driehoek is Bjorn Basson, Akona Ndungane en Zane Kirchner. “Ons het die kern van ons spelers behou terwyl die Bokke weg was. En die 15 ouens wat die naweek begin, is omtrent al die manne wat die hele laaste drie weke saam met ons geoefen het,” het Ludeke verduidelik hoe hy sy span gekies het en hoe die Bulle hul momentum van vroeër wil handhaaf. Die Bulle is derde op die algehele puntelys en volgens Potgieter is hul visier gestel op tuis-uitspeelstryde en die boonste posisie. Die Bul-span is: Zane Kirchner, Akona Ndungane, Jan Serfontein, Wynand Olivier, Bjorn Basson, Louis Fouché, Francois Hougaard, Dewald Potgieter (k), Jacques Potgieter, Deon Stegmann, Grant Hattingh, Flip van der Merwe, Werner Kruger, Chiliboy Ralepelle, Dean Greyling. PLAASVERVANGERS: Willie Wepener, Frik Kirsten, Juandré Kruger, Jono Ross, Rudy Paige, Morné Steyn, JJ Engelbrecht.
Posted on: Thu, 27 Jun 2013 09:31:11 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015