40 dae: Dagstukkie Maandag 2 September Lees Matteus 18:15-20 - TopicsExpress



          

40 dae: Dagstukkie Maandag 2 September Lees Matteus 18:15-20 Vergewe! - God is by jou Teks: Matteus 18:20 “...want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” ... In Matteus 18:21–35 vertel Jesus ‘n verhaal, wat ons maklik kan laat sê: “Onmoontlik!” Om te vergewe bly vir die mens vanweë sy selfgesentreerde aard nie iets makliks om te doen nie. Ons bly vaskyk teen die daad van kwaad en onreg wat die ander teen ons gepleeg het en die hoeveelheid seer en skade wat dit veroorsaak het. Die logiese by ons is om net soos die amptenaar in hierdie verhaal te vergeet van die eie kwytskelding wat ons ontvang het en ander te forseer om die skade reg te stel of te kompenseer vir die seer wat ons aangedoen is of andersom om dieselfde seer of skade aan hulle te berokken. Versoening is die werk van God. Dit blyk duidelik uit Paulus se verduideliking in 2 Korintiërs 5:14-21. God neem in die eerste plek inisiatief om versoening te bewerk en hou self sy werk in stand. Daarom is ons niks meer as gesante nie aan wie die bediening van versoening toevertrou word en waar twee of drie in die verband in sy naam bymekaar is, sê Hy dat Hy by hulle is. Daarom is dit so belangrik om op die eerste dag van hierdie week waar ons op die noodsaalike pad van vergifnis en versoening gaan fokus, dié belofte van God vir ons toe te eien en saam met ons te vat. As jou broer/suster verkeerd opgetree het teenoor jou, gaan sien hom/haar, neem nog een saam, sê dit selfs ook vir die gemeente… ja, sit alles in wat jy kan om daardie verhouding te herstel, maar die heel belangrikste: gaan in die naam van ons Here Jesus! Moenie bloot gaan as Jan, Piet, Sarie of Annie nie maar gaan as ‘n nuwe mens wat die dinge van die ou mens afgelê het en erns maak met die gesindheid wat Jesus aan ons geopenbaar het. Gaan as’t ware onder die versoeningskleed van Jesus en onthou wat Jesus talle kere belowe: “Ek is by julle.” Dan betree ons God se wêreld waar die menslik onmoontlike, moontlik is. Gebed : Here, vandag besef ek dat ek nie een tree sonder U kan gaan nie. Hiervandaan wil ek net in u Naam gaan! As ek onder u Naam uitglip, o Heilige Gees omvou my en soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerk invou, bring my weer terug na U toe. Amen
Posted on: Mon, 02 Sep 2013 09:41:29 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015