RAAD MAAN TEEN DIÉ ALTERNATIEF ‘E-sigarette ook - TopicsExpress



          

RAAD MAAN TEEN DIÉ ALTERNATIEF ‘E-sigarette ook skadelik’ Reeds multimiljard-dollar-bedryf Beeld MARIDA FITZPATRICK Maandag 23 September 2013 Rokers wat ook e-sigarette gebruik, vuur bloot hul verslawing aan pleks van om dit te oorkom, sê dr. Yussuf Saloojee, uitvoerende direkteur van die Nasionale Raad teen Rook. Vervaardigers bemark dikwels e-sigarette as ’n gesonder alternatief vir tabaksigarette, maar Saloojee sê hy twyfel sterk of dit werk. “ ’n E-sigaret gee jou net ’n tiende van die nikotien wat jy uit ’n tabaksigaret kry en dit is nie genoeg om ’n roker se behoefte aan nikotien te bevredig nie. “Die gevolg is dat gebruikers van e-sigarette tabaksigarette rook wanneer hulle mag rook en e-sigarette rook wanneer hulle nié mag rook nie, soos op kantoor of in ’n vliegtuig. “Uiteindelik gebruik hulle sowel tabak- as e-sigarette en kry só daagliks meer nikotien in as wat hulle sou inkry as e-sigarette nie ’n opsie was nie. Dit versterk dus hul verslawing.” Oorsee het die gebruik van e-sigarette die hoogte ingeskiet en plaaslik groei die bedryf ook sterk, sê Philip Bartholomew, mede-eienaar van die e-sigaret-verkoper Twisp. “Ons kry meer as 5 000 klante per maand by en die koers groei met elke nuwe winkel wat ons oopmaak,” sê hy. Volgens Bartholomew het Twisp in 2008 met twee winkels begin. “Ons het nou 18 winkels en beplan om nog 15 winkels oop te maak in die eerste helfte van volgende jaar.” Bartholomew hou vol die oorgrote meerderheid van hul klante slaan heeltemal van tabaksigarette oor na e-sigarette. “Dit laat hulle toe om die nikotien op die bekende manier in te neem wat hulle geniet; sonder om die rook in te asem.” Gebruikers van e-sigarette asem nie die rook, teer en koolstofmonoksied in soos rokers van tabaksigarette nie, sê Bartholomew. “Dit is ook sowat 70% goedkoper as om tabakprodukte te rook.” Saloojee sê egter die Nasionale Raad teen Rook steun nié e-sigarette nie, want dit bevat steeds nikotien en nikotien is skadelik vir ’n mens se gesondheid. “Dit word verbind met hartsiekte.” Salojee sê ook al die voordele waarop die vervaardigers van e-sigarette aanspraak maak, is nog nie bewys nie. Volgens Bartholomew is e-sigarette reeds ’n multimiljard- dollar-bedryf in die VSA. “Al die grootste tabakmaatskappye belê swaar in e-sigarette, want hulle sien hoe inkomste uit tradisionele sigarette daal. “Tabakrook is ’n sterwende bedryf.”
Posted on: Mon, 23 Sep 2013 05:50:32 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015