SUPER-STRYD VANDAG TEEN STORMERS: Konings of knegte? Strauss-hulle - TopicsExpress



          

SUPER-STRYD VANDAG TEEN STORMERS: Konings of knegte? Strauss-hulle wil ná Bul-loesing opstaan MICHAEL GREEN : Volksblad Saterdag 06 Julie 2013 PORT ELIZABETH. – Watter Southern Kings-span gaan vandag hier in die Nelson Mandelabaai-stadion teen die Stormers opdraf? Gaan dit die span wees wat vroeër in die Superrugby-reeks bewondering met hul vegtersvertonings afgedwing het? Of gaan dit die een wees wat soos verlede week teen die Bulle in Pretoria gelyk het of hy maar eerder in die Curriebeker-reeks se Eerste Liga moet gaan speel? Hierdie Jekyll en Hyde-vertonings van die Kings het al tot verskeie filosofiese gesprekke met Alan Solomons, die Kings se direkteur van rugby, gelei. Dán is die Kings té moeg en dán té uitgerus. Tot Solomons se krediet moet ’n mens byvoeg dat hy nooit wegskram om te sê die Kings was vrot wanneer hulle vrot was nie. Soos verlede week teen die Bulle. Die Bulle het opgedraf soos ’n span wat wou rugby speel. Die Kings het opgedraf soos ouens wat deurnag PlayStation gespeel het. “Ons kan nie wag om weer op die veld te kom en reg te maak wat ons verbrou het nie,” het Andries Strauss, die Kings se kaptein, gesê. “Almal wil die goeie reputasies wat ons opgebou het weer in ere herstel.” Strauss-hulle weet dit sal nie maklik wees om teen die Stormers te wen nie. “Die Stormers het een van die beste verdedigingstelsels in die reeks,” het hy gesê. “Dis moeilik om teen hulle drieë te druk. As hulle nie strafskoppe afstaan nie, is dit baie moeilik om punte teen hulle te kry. “Dis wat hulle verlede week so goed teen die Cheetahs gedoen het. “Natuurlik het hulle ook spelskeppers en vaardighede agterlangs om drieë te druk. “Dit het hulle lank geneem om hulle aanval in plek te kry en dit lyk of hulle ’n bietjie meer aanvallend probeer speel.” Die Stormers het tot dusver nog net 17 drieë afgestaan, teenoor die Kings se 57. Hoe aanvallend enige van die spanne vandag gaan wees, sal wéér baie van die weerstoestande afhang. Toe die spanne laas in Kaapstad kragte gemeet het, was die Stormers in reënweer met 19-11 baas. Dis al die hele week reënerig in die Baai. Dis nie onmoontlik dat die stryd weer voorlangs en met die voet beslis kan word nie. Maar die vraag bly steeds – gaan dit die Zombies of die Kings wees wat vandag opdraf? * Southern Kings: SP Marais, Michael Killian, Ronnie Cooke, Andries Strauss (k), Marcello Sampson, Demetri Catrakilis, Shaun Venter, Jacques­ Engelbrecht, Wimpie van der Walt, Cornell du Preez, Darron Nell, David Bulbring, Grant Kemp, Bandise Maku, Schalk Ferreira. PLAASVERVANGERS: Charl du Plessis, Hannes Franklin, Steven Sykes­, Devin Oosthuizen, Nicolas Vergallo, George Whitehead, Shane Gates. * Stormers: Joe Pietersen, Gio Aplon, Juan de Jongh, Damian de Allende, Bryan Habana, Elton Jantjies, Louis Schreuder, Nizaam Carr, Deon Fourie (k), Don Armand, De Kock Steenkamp, Eben Etzebeth, Brok Harris, Scarra Ntubeni, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Martin Bezuidenhout, Pat Cilliers, Gerbrandt Grobler, Rynhardt Elstadt, Nic Groom, Gary van Aswegen, Gerhard van den Heever. Skeidsregter: Lourens van der Merwe.
Posted on: Sat, 06 Jul 2013 09:29:07 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015