God is die Skepper van hoop – Anoniem... Anette Marais sit op - TopicsExpress



          

God is die Skepper van hoop – Anoniem... Anette Marais sit op ’n stomp en skud die stof van haar verslete klere af. Rondom haar sit die groepie bekende gesigte van moeë vrouens. Net ’n paar tree verder is die hoë draad van die konsentrasiekamp. Sy slaan haar Bybel oop en begin lees. Sy het in die donker ure van die nag met God geworstel en Hom gesmeek vir ʼn boodskap om hierdie vrouens te bemoedig, want wie weet hoe lank nog... Anette lees die woorde van Matt 10:29 – “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie, en tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.” Terwyl sy besig is om hierdie woorde te lees, kom sit daar ’n vaal klein mossie op haar skouer. Die groepie vrouens staar in verbasing na wat voor hulle gebeur... en so word die mossie die teken van hoop in die onmoontlike omstandighede van die konsentrasiekamp in Bethulie. Dit was fantasties om in die maande wat volg te sien hoe die mossies van Bethulie ’n baken van geloof en hoop word vir hierdie vrouens. Op 21 Mei 1902 was die oorlog verby. Anette het op pad terug na haar huis gestop by ’n vrou met invloed en haar vertel van die mossie-boodskap, sy het dit weer oorvertel en Generaal Jan Smuts het in 1923 die mossie op die land se kleinste muntstuk (kwartpennie) laat verskyn. Amper 80 jaar later sit Jak de Priester in ’n park in Londen. Sy geld is op, hy kry nie werk nie, hy mis die meisie van sy drome en sonskyn en biltong. Hy slaan sy klein silwer Bybeltjie oop en lees die “mossie” boodskap en bid vir die soveelste keer vir werk! Vroeg die volgende oggend lui sy telefoon en dis die oproep waarvoor hy gewag het. Hy spring op die eerste trein en begin met ʼn lang dag se onderhoude. Moeg, maar gelukkig en met ’n permanente werk, klim hy weer laatmiddag op die trein. Toe hy inklim sien hy ’n muntstuk op die vloer lê... hy tel dit op en daar, op ’n trein in Londen, hou hy ’n Suid-Afrikaanse 1c in sy hand... met ’n mossie agter op. Hy vertel dat die wêreld rondom hom stil gaan staan het... dat hy besef het dat God daar by hom op die trein is en dat gebed sy waarborg is in hierdie stukkende wêreld. Vandag, ’n paar jaar later, skud ek my beursie uit. Ek sit ʼn 1c neer vir my vriendin met borskanker, nog ʼn 1c vir huwelike wat sukkel, ’n 1c vir iemand na aan my hart se werksomstandighede, vir enkel ouers en weduwees... en ek besef die mossie-boodskap is dalk net een versie in ’n dik Bybel, maar ’n Almagtige en liefdevolle Vader staan agter dit! Here, dankie, dat daar altyd hoop is. Dankie, vir bakens langs die pad wat ons help om geduldig te wees, terwyl ons wag vir U, om op die perfekte tyd ons omstandighede te verander. Amen
Posted on: Thu, 11 Jul 2013 09:59:51 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015