Om te lewe sonder oordeel Matt. 7:1-12 Ons teks vanoggend praat - TopicsExpress



          

Om te lewe sonder oordeel Matt. 7:1-12 Ons teks vanoggend praat oor “oordeel” en is sommer reguit van die begin af: “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie…” Dis so maklik om hierdie gedeelte te lees en te dink: “Sjoe, gelukkig oordeel ek nou nie eintlik mense nie.”. Todat jy bietjie na jou lewe kyk en agterkom jy oordeel eintlik baie elke dag! Kyk maar die laaste week: Oscar Pistorius se saak. Hoeveel keer het jy al oordeel uitgespreek – teenoor Oscar, teenoor die ondersoekbeampte self, teenoor die polisie wat klaarblyklik baie foute maak, teenoor die media se hantering van die saak. Ander kere wanneer ek negatief is oor my rugbyspan se afrigter se spankeuses of wedstrydplan (of gebrek daaraan!), of my misnoeë uitspreek oor politici se klaarblyklike onvermoë om hul werk te doen. Wanneer ek my kinders uittrap omdat hulle iets nie reg gedoen het nie, dalk net omdat hulle dit nie gedoen het soos wat ek dit sou doen nie. ‘n Ander voorbeeld van oordeel is natuurlik skinder – wanneer jy jou negatief uitspreek oor iemand wanneer die persoon nie teenwoordig is nie. Daar is nog baie voorbeelde van oordeel – die punt is: ons is mense wat graag oordeel. Baie oordeel. Selfs veroordeel. Ook in die kerk: Daai ou hou hom nou regtig heilig…; kon daai man nie maar net ‘n netjiese hemp en das aangetrek het kerk toe nie… James Bryan Smith sê daar is twee redes hoekom ons mense oordeel: om hulle te “fix”/verander, of om ons beter te laat voel oor onsself – en soms geld albei redes gelyktydig. Die probeem met oordeel, en dit word in ons teks vanoggend beklemtoon, is dat dit meestal nie die gewensde effek van verandering by die ander persoon het nie, om verskeie redes: • Oordeel kom nie vanuit ‘n hart van liefde nie. “If you judge people, you have no time to love them” – Mother Theresa. Wanneer jy oordeel uitspreek oor iemand is daar ‘n element van “afskryf” in, van neersien op die persoon. Geen liefde. En die persoon ervaar dit ook so. “…hê ‘n ou lief, dan kan jy vir hom enigiets sê…” • Oordeel vat kortpad.Dis makliker om oordeel uit te spreek en terug te staan, as om in ‘n verhouding te tree met die persoon en ‘n pad te stap om hom/haar te help verander. Die sleg is dat die persoon aangeval/bedreig voel en dan eerder ook aanval as om te verander.vb. Joh.8. • Met oordeel breek ons die huis af, maar ons help nie opbou nie. Al gee jy “raad” saam met jou oordeel, word dit selde aanvaar. • En die laaste rede is dat ons oordeel baie keer verkeerd is – ons weet nie wat in daardie persoon se lewe aangaan of hoe hul voel of wat die rede vir hul optrede is nie. Soms is ons inligting ook verkeerd of bou ons ons inligting op verkeerde feite wat ons eers later besef, maar dan is die oordeel reeds uitgespreek en die verhouding dalk reeds geknou. Die ander rede hoekom ons maklik oordeel, is omdat dit ons beter laat voel oor onsself – en hier kom veral skinder ter sprake. Skinder plaas my in ‘n posisie waar ek neersien op iemand. Waar op daardie persoon se ‘foute’ gefokus word en ek my eie foute kan ignoreer. Dit plaas my op die sogenaamde “morele hoëgrond” – ek is reg en hy is verkeerd – en dit laat my goed voel. Want ek kan my hoorders oortuig dat ek reg ois en die ander persoon verkeerd in hul optrede. Nou as ons die eerste paar verse lees kan ons dit verstaan dat ons nie moet oordeel nie, want God sal ons met dieselfde oordeel oordeel. Maar met die verduideliking van die “balk en splinter” wat volg word ‘n ander verstaan duidelik. Ons moenie oordeel nie, want oordeel lei eerder daartoe dat die persoon ons terug oordeel, maw die verandering wat ek gehoop het my oordeel by die ander persoon gaan bewerkstellig, gebeur nie. Die ‘balk’ – mens interpreteer maklik die balk as jou eie sondigheid en dat Jesus hier verduidelik dat ek nie ander kan oordeel nie omdat ek meer ‘sondig’ is as hulle. Maar dan sou Jesus mos eerder gesê het ek moet eers van my sonde (balk) onslae raak voor ek dan ander oordeel? Nee, die balk is myns insiens juis die “daad van oordeel”. As ek ander oordeel maak dit dit onmoontlik om hulle te kan help – daarom die absurditeit van die vergelyking (balk vs splinter). Ek moet van die oordeel in my ontslae raak voordat ek die persoon kan help met sy probleem. Selfs al is die intensie reg, is die metode (oordeel) verkeerd. My oordele maak dat ek die mens/persoon miskyk en fokus op sy “probleem”. En dis waar die voorbeeld van die varke en honde inkom. Die persoon sal omdraai en my terug oordeel. Of andersins sal die “raad” wat ek wou gee ‘vertrap’ word. Varke kan nie pêrels eet of verteer nie – dis dus waardeloos vir hulle. My goeie raad sal ook waardeloos wees as dit saam met oordeel kom. Daar is ‘n ander manier. Nou hoe dan nou gemaak? Wat is dan nou die regte manier van dinge doen? v.7-11. VRA, SOEK en KLOP = BID – nooi God in die situasie in. Vra God vir wysheid en insig en ook geleentheid om in verhouding tot die persoon te tree. Vra vir opregte liefde. ‘bid sonder ophou’. God sal goeie gawes gee vir elkeen wat vra. Hy gee wat nodig is om in ‘n verhouding van liefde tot die ander persoon te nader. Hy kom doen wat ons nie kan doen nie. Hy kom vernuwe ons Luk.11 – God gee Sy Heilige Gees vir elkeen wat vra. Dit gaan hier ook oor ek wat moet verander. “Goue reel” - v.12 Tree op teenoor ander soos wat jul wil hê hul moet teenoor jou optree. Ons word herinner hoe min ons daarvan hou om geoordeel te word deur ander. As ons hierdie reël volg, sal ons nooit ander mense oordeel nie! En dit is Jesus se doel. Ons moenie mense word wat minder oordeel nie, ons moet mense raak wat sonder oordeel leef. En net Jesus kan dit in ons doen deur Sy Gees. Mag die Here ons ook hierin genadig wees.
Posted on: Tue, 06 Aug 2013 05:02:00 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015