Publiek kan nou sê oor alkoholwet ‘Reklame moedig jongmense - TopicsExpress



          

Publiek kan nou sê oor alkoholwet ‘Reklame moedig jongmense aan’ Beeld Saterdag 21 September 2013 Die kabinet het ingestem dat ’n wetsontwerp wat alkoholreklame sal verbied vir openbare kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer word, het Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, gister gesê. “Alkoholreklame romantiseer en moedig steeds die gebruik aan van ’n produk wat ernstige skade aan individue en die samelewing berokken en ondanks aansprake van die bedryf dat kinders en jongmense nie geteiken word nie, dui internasionale navorsing daarop dat reklame die gedrag van kinders en jongmense wel beïnvloed,” het sy in ’n verklaring gesê. Dit is volgens Dlamini die staat se verantwoordelikheid om die gesondheid en welstand van Suid-Afrikaners te beskerm. Volgens haar word positiewe oortuigings oor drinkery gekweek en jong mense aangemoedig om vroeër en meer te drink. Die Wetsontwerp op die Beheer van die Bemarking van Alkoholiese Drank is op grond van al dié getuienis opgestel, het die minister gesê. Deskundiges wat by die opstel van die Wet en Wysigingswet op die Beheer van Tabakprodukte betrokke was, het ook bydraes tot die alkoholwetsontwerp gelewer en daar is op ’n omvattende benadering besluit. Benewens drankreklame is borgskappe wat met drank geassosieer word ook in die visier met die beoogde wetgewing. Alkoholverbruik verhoog die voorkoms van geweld, misdaad en padongelukke en het ’n negatiewe impak op onderwys en die ekonomie, lui die verklaring. “Die tasbare koste van alkoholverwante skade by alle regeringsdepartemente word op sowat R38 miljard geraam, terwyl navorsing aandui dat die ontasbare koste tot R240 miljard kan wees.” Alkohol is die derde grootste risikofaktor vir dood en gestremdheid in die land en is verantwoordelik vir sowat 130 sterftes per dag, lui die verklaring. Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (Sacci) het vroeër gesê so ’n verbod kan die bedryf en die ekonomie negatief raak. Die motivering vir die verbod is begryplik, maar dit sal nie help om die negatiewe gevolge van alkoholmisbruik te voorkom nie, het Neren Rau, uitvoerende hoof van Sacci, gesê. “Alkoholmisbruik is ’n simptoom van ernstiger sosiaal-ekonomiese en werkloosheidsuitdagings wat die land in die gesig staar. Alkoholmisbruik sal afneem as dié uitdagings aandag kry.” Volgens Rau dui die wetsontwerp op ’n groot mate van inmenging in die sakesektor. – Sapa
Posted on: Sat, 21 Sep 2013 05:01:14 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015