Rubriek: Dié gegiggel agter hand is ’n tree agteruit Van mens - TopicsExpress



          

Rubriek: Dié gegiggel agter hand is ’n tree agteruit Van mens tot mens Beeld Woensdag 14 Augustus 2013 “Bevryde vrou . . . in kettings” was ’n gepaste opskrif vir Beeld se hoofartikel op Vrouedag; dat vroue toegelaat word om uitnemend te presteer, maar terselfdertyd steeds slagoffers van die manlike ego en heerskappy is. En die teoloog Yolande Dreyer beaam dit in haar rubriek (Beeld, 12 Augustus). Dié artikels gee te kenne dat die bevrydende bemagtiging van vroue nog geensins ’n leefwyse hier is nie en maar dikwels bly by mooipraatjies maak op Vrouedag en ’n paar dae daarna. Een terrein waar vroue nog grootliks onvry is, is die advertensiewese, wat ’n veelseggende spieëlbeeld van die samelewing verskaf. Volgens navorsing word gepoog om advertensies meer gender-bewus te maak. Tog word vroue in 43% van die advertensies in Suid-Afrika, Mauritius, Zambië en Zimbabwe gestereotipeer volgens patriargale opvattings oor hul identiteit en rol: as versorger in die huis (kombuis) gemoeid met kinders, en die man as broodwinner, korporatief by sy werk ingelyf. Advertensies bly vassteek in gerieflike aannames dat vroue en mans sedert die oertyd evolusionêr nie veel verander het nie en steeds die gestereotipeerde rolle verkies en uitleef. Selfs advertensies wat oënskynlik gender-bewus is, word dikwels deur ’n soort ontkennende humoristiese subteks gedra. Om as ’t ware te sê: Só wil sommige hê die rolle moet verander, maar eintlik bly dit dieselfde, of die nuwe identiteite en rolle is bloot skyn. Kom ons lag (of giggel agter die hand) daaroor, dan is alles weer soos dit hoort. Dink aan die advertensie van die man met ’n T-hempie waarop staan: “What women want.” Hy kén vroue en hy ís wat vroue wil hê. Hy vertel selfingenome watter goeie kopies hy (vir vroulief ) in ’n supermark gedoen het. En selfingenome sê hy later: “Romeo is back” – asof sy gestereotipeerde rol as “Romeo” teruggewen kan word deur die soort inkopies te doen wat (huis)vroue gewoonlik doen. Geen gesindsheidsverandering is nodig nie. Maak net die regte geluide en alles is klopdisselboom. Die sukses van sulke advertensies om ’n handelsnaamindruk vermaaklik te vestig, getuig dalk van “goeie sakesin”, maar dit is ook ’n siniese ondermyning van pogings om vroue te bemagtig. Vroue hét bekwaamhede ver anderkant belaglike stereotipering wat hulle voorhou as eroties gelade verbruikersprodukte. Hul bekwaamhede is ’n ryk voedingsbron vir ’n deernisvoller, sorgsamer en doeltreffender samelewing. ’n Beter bedeling vir vroue kan ’n onstuitbare samelewingskrag word; ’n krag wat terselfdertyd mans en vroue se gesamentlike menswees bevestig. Nie in die trant van die dikwels snedige “julle mansmense” versus “julle vroumense” nie, maar as gelykwaardige mense wat met die selfstandige naamwoorde “man” en “vrou” benoem word.
Posted on: Wed, 14 Aug 2013 11:47:06 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015