Wat is sosiologie? Sosiologie gaan oor die studie van die - TopicsExpress



          

Wat is sosiologie? Sosiologie gaan oor die studie van die menslike sosiale lewe - hoe ons met andere in verband staan en in hoe ons met mekaar en ons omgewing in sosiale interaksie verkeer. Sommige sosioloë fokus op die interaksie tussen mense en die alledaagse lewe; ander bestudeer die sosiale verhoudings in spesifieke sosiale instellings soos die gesin of religie of die werksplek, terwyl ander weer fokus op sosiale bewegings, of globale verskynsels soos internasionale arbeidsmarke of oorlog of die impak van massamedia op die samelewing. Sosiologiese verbeeldingrykheid Alle sosioloë stel belang hoe mense met mekaar in interaksie verkeer, en om te verduidelik hoe hierdie interaksie n bepaalde vorm aanneem en verander oor tyd. Wanneer hierdie kwessies ondersoek word, word antwoorde gesoek wat verder gaan as alledaagse verklarings soos dat oorsake geleë is in die menslike natuur of dat dit nog altyd so was. Sosioloë werk met wat die Amerikaanse sosioloog C Wright Mills die sosiologiese verbeelding genoem het . Dit verwys na die vermoë om nuuskierig te wees oor hoekom spesifieke samelewings of segmente van spesifieke samelewings funksioneer soos wat hul doen - deur kritiese vrae te stel oor sosiale ordening en om ontvanklik te wees vir verskillende maniere om na die wêreld te kyk. Die volgende is enkele voorbeelde van vrae wat sosioloë ondersoek: Word mans en vroue gebore om verskillende rolle in die samelewing te speel? Hoeveel invloed het die samelewing op ons verwagtinge van wat dit beteken om n man of n vrou te wees? Wat is die impak van die Internet op die manier hoe mense met mekaar kommunikeer en hoe affekteer dit verhoudings in die gesin, die gemeenskap en die wêreld? Hoekom is misdaadsyfers in Suid-Afrika so hoog, en wat kan ons daaromtrent doen? Hoe is die aard van werk besig om te verander? Hoe het ons sienings oor die natuur en omgewing oor tyd verander? Hoe hou mens rekenskap van oorlog en konflik in die samelewing? Wat is nodig om vrede in die wêreld te bevorder? Hoekom is daar ongelykheid tussen mense? Het ongelykheid altyd bestaan en in alle samelewings? Wat word met ontwikkeling bedoel? Is dit altyd n goeie ding? Hoekom is suidelike Afrika die episentrum van MIV/VIGS? Hoe belangrik is taal in die vorming van n mense se kulturele identiteit? Navorsingsvaardighede Sosiologie vra nie alleen vrae oor die samelewing nie. Dit bied ook opleiding oor hoe sulke vrae beantwoord kan word deur die kombinasie van teoretiese denke en toegepaste navorsing. Sosiologiese navorsing neem baie vorme aan, maar behels tipies veldwerk met die groep of gemeenskap wat bestudeer word. Die disipline het oor die jare n gesofistikeerde stel beginsels en gebruike ontwikkel wat verskillende soorte navorsingsprojekte rig en verskillende soorte navorsingsvrae beantwoord. Metodes wissel van groot opnames van groot getalle mense vir statistiese ontleding, tot indiepte onderhoude met individue ten einde hul ervarings en persepsies te kan verstaan, tot deelnemde waarneming waar die navorser tyd spandeer met die groep wat bestudeer word, en deelneem aan en waarnemings doen van hul daaglikse aktiwiteite. Die opleiding wat sosiologie vir voorgraadse en nagraadse studente in navorsingsmetodologie bied, is n baie waardevolle vaardigheid wat toepaslik in verskillende werksituasies is. Wat kan ek met sosiologie as n universiteitsvak doen? n Voorgraadse sosiale wetenskappe graad met sosiologie as hoofvak baan die weg vir verskeie loopbaangeleenthede, insluitende: die ontwikkelingsveld, waar gewerk word met NROs, die konsultasiebedryf en staatsdepartemente oor verskillende sektore heen (kindersorg, gesondheid, grondsake, behuising, arbeid, onderwys, kultuur, ens) die verskillende sektore van die regering, insluitende die plaaslike, provinsiale en nasionale vlakke sosiale navorsing (marknavorsing, beleidsnavorsing, sosiale houdings, ens) journalistiek maatskaplike werk onderwys politiek die ontwikkeling van sosiale beleid. n Nagraadse kwalifikasie bekwaam n persoon vir meer senior posisies in hierdie velde. Dit bied ook n moontlikheid vir n akademiese loopbaan by universiteite of navorsingsinstellings, of in senior akademiese bestuur. Dit is moontlik om hier n bedrae te lewer tot die produksie van sosiologiese kennis oor die samelewing in alle velde van sosiale ondersoek. Hierdie departement doen byvoorbeeld navorsing oor gemeenskapsontwikkeling, sosiale beleid, gender, die sosiale dimensies van MIV/VIGS, die wynbedryf, swart ekonomiese bemagtiging, die militêre instelling, grondhervorming en religie. Die begronding van sosiologie as n akademiese disipline Daar was nog altyd mense wat kritiese vrae gestel het oor die manier waarvolgens die samelewing funksioneer, maar sosiologie het as akademiese disipline in Europa in die laat negentiende eeu ontwikkel in reaksie tot die grootskaalse sosiale veranderinge in die sosiale lewe as gevolg van ekonomiese ontwikkeling (die industriële revolusie, snelle verstedeliking, die groei van globale marke) sowel as politieke transformasie (die val van absolute monargieë, revolusie, Europese kolonialisme en die opkoms van demokrasie). Die hoof-sosiologiese-denkers soos Karl Marx, Emile Durkheim en Max Weber, het geworstel met hoe om oor hierdie groot vraagstukke te dink en hoe om dit te verklaar. Elkeen van hierdie denkers was verantwoordelik vir onderskeibare teoretiese tradisies in sosiologie. Gedurende die verloop van die twintigste eeu het denkers van buite Europa die omvang van sosiologiese ondersoek verder uitgebrei, insluitende deur kritiese refleksie oor die verhouding tussen Europa en ander gedeeltes van die wêreld en die aard van moderniteit. Sosiologie by die Universiteit van Stellenbosch Die meeste sosiologie departmente by universiteite in Suid-Afrika het ontwikkel uit saamgestelde sosiale wetenskappe departemente wat sosiologie met maatskaplike werk en/of sielkunde gekombineer het. Sosiologie is in Stellenbosch in 1932 ingestel, oorspronklik as n gemeenskaplike department met Maatskaplike werk. Die twee disiplines is in 1965 geskei en Prof SP Cilliers was die eerste voorsitter van die nuwe Departement van Sosiologie.
Posted on: Wed, 13 Nov 2013 17:16:18 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015