Ek het op ‘n radiostasie afgekom, in die oneindigheid van die - TopicsExpress



          

Ek het op ‘n radiostasie afgekom, in die oneindigheid van die eter, wat my op ‘n gans ander plek, elders op die ronding van die aardbol, tuis bring. By al die heerlikheid van hiér, al my ingebore, ingebóórde liefde vir die grond wat eerste my voete vir my gevind het, sal daardie ander plek altyd die figuur wees van my ander liefde, my skuldige hartstog, geografiese metafoor vir die verlange wat die deskant vorm van elke harmonie wat ek hier in staat is om te hoor. Daardie stasie op mediumgolf is ‘n gewone klets- en musiekomroep, niks geweldigs daaraan nie. En ek verstaan weinig wat daar gepraat en gesing word. My aangeleerde woordeskat het soveel gekrimp van onbruik. Maar die klank daarvan ken ek soos my eie asem. Dit is ‘n taal waarin die wind waai en die see spoel, donkiehoewe op plaveisel klop, waarin vensters oopgaan en iemand oopkeel roep, of ‘n binnefluistering tot in die ontblote siel van ‘n geliefde sink. Die taal se woorde soek grammatikale paring, daar is hegte sluiting van getal en geslag, die werkwoorde vervoeg in ‘n duisend moontlikhede en gevoelswaardes en skakerings van sekerheid. Net ‘n klassieke taal kan so maak, en net Grieks kan so klink. En dan ry ek so deur die strate van Johannesburg met die raserige flardes ontvangs van my Griekse radiostasie soos ‘n bedorwe bandopname van ‘n lank verlore geliefde. Maar, godweet, dis nie seiljaggladde, RayBanblink, Photoshopblou Mikonos se Griekeland wat ek ken nie. My Hellas is meer rou, peasantbesette, ousiel, donker Griekeland. Dit sal wel nooit Patrick Leigh Fermor se Griekeland meer kan wees nie – daardie ongereptheid bestaan miskien nou nog net in Turkye, maar daar is genoeg van die hees geroepte stem van die antieke Egeïese Seegebied oor in die liedere wat jy laatnagte in kuierplekke hoor, en wat die ongeoefende oor beswaarlik kan onderskei van iets uit die Levant of uit Noord-Afrika. Dis die plek van ou Andonis die visterman wat soos ‘n knipmes krom loop en vir wie die mense uit die dorp uit gelag het toe hy sy boot se naam onderstebo geverf het. Maar ook die einste Andonis wat die visse uit die see roep dat hulle na hom toe aangeswem kom – dit het ek met my eie oë gesien. Of van glimlaggende Varvara wie se broers te arm was om vir haar ‘n bruidskat te gee, en toe nooit kon trou met haar geliefde Giorgos nie, wat met ‘n ander meisie moes trou. Giorgos wat later vir haar ‘n netjiese huis in die dorp gebou het. Dis die plek van Stella van lank voor my tyd wie se huis nou nog afgebreek in die middel van die agora staan nadat sy een nag skreeuend en vloekend op die dorp haarself aan die brand gesteek het. Wat jare lank geostraseer was omdat sy haar openlik aan ‘n getroude man gekleef het. Of van mooi Eleftheria in haar vrugtewinkel wat my elke dag geduldig ‘n nuwe woord in Grieks geleer het. Of van visterman Kosta in wie se gastekamers ek gebly het en wat my gereeld ‘n sak vars sardiens van sy vangs gebring het, wat geen Engels kon praat nie maar wat my graag genooi het vir ‘n glasie uozo en dan oor die see uitgekyk en die mooiste Griekse woord gesug het, die woord vir die see: “thalassa”. Of van Liz die Londense joernalis wat Shirley Valentine-styl op ‘n berede Griekse skaapwagter verlief geraak het, of Heinz die maer Duitser wat nie kon glo hy word sewentig nie en wie se hart weer en weer gebreek is deur sy ouderdom en deur ‘n onkeerbare, onwederkerige liefde vir mooi jong vroue. En van Ounooi met haar Piketbergse bgei wat my aan hulle almal voorgestel het. Dis waar dolfyne verby die strand buitel in dieselfde rigting waar Odussseus met sy bootjie kuslangs teruggevaar het van Troje af, waar die hoof van Orfeus op die strand uitgespoel het, waar die oudste vondste van kultuurlewe vyfduisend jaar voor Christus dateer, waar die eerste poësie wat individualiteit uitdruk deur Sappho geskryf is. Dis waar die vet priester op ‘n verlate strand nakend voor sy vrou staan en vir haar ‘n vy afskil. Waar ek by ‘n skaam non in ‘n klooster hoog teen die berg heilige water met groot krag gaan koop vir my vriend die priester in Suid-Afrika. Dis waar ‘n skuins geel lig een laat nag soos iets met substansie by ‘n deur uitval. Waar gille uit die huis kom en harde stemme, en ‘n jong man met bloed op sy hemp by die deur uitstrompel en in die donker straat wegslinger. En van die doodbloei van my eie liefde op daardie eiland swyg ek liewer behalwe om te sê dat ek en my geliefde een skemeraand bo-oor ‘n bult afkom op ‘n gesig onder op die strand wat ons in ons spore stuit: ‘n jong god in die laaste lig van die dag, torsonaak met sy perd in die branders. Ons kon alleen maar daar geplant staan en swyg, want dit was asof die hele aarde en die hele menslike geskiedenis saamgesweer het om daardie een oomblik van skoonheid en uitlokking en gevaar en ewige onbereikbaarheid aan ons twee voor te stel.
Posted on: Thu, 11 Jul 2013 22:09:39 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015