Ma gaan lê op baba toe honde byt Twee rottweilers gryp - TopicsExpress



          

Ma gaan lê op baba toe honde byt Twee rottweilers gryp haar uit vrou se arms Mbombela (Nelspruit). – ’n Jong ma van dié stad het bo- op haar baba gaan lê om haar teen ’n verwoede aanval deur twee rottweilers te beskerm. Belinda du Buson (22) is toe erg gebyt. Sy het Woensdag gesê sy en haar 19 maande oue dogtertjie, Kilinda Erasmus, het verlede week Woensdag by vriende in Witrivier gaan kuier. “Ek het haar uit die motor getel en in my arms vasgehou toe my vriendin se twee rottweilers op ons afstorm. “Blykbaar was die hek se knip nie mooi op nie. My vriendin se ma het by ons gestaan en die honde het haar uit die pad gestamp. Hulle het Kilinda uit my arms gegryp en haar begin byt. Ek kon haar nie uit hul bekke pluk nie, want dan sou sy seerder gekry het,” het Du Buson gesê. “Ek het toe op Kilinda gaan lê en die honde het my op die kop gebyt. Ek het gedink eerder ek as sy, want ek sou die pyn kon hanteer. ’n Ma se liefde het geen perke nie.” Intussen het haar vriendin haar gille gehoor en uitgehardloop gekom. Du Buson wil nie die vriendin se naam verskaf nie. Die vriendin het die een hond se bek oopgedwing en hulle het Du Buson en Kilinda gelos. “My vriendin het in die huis ingehardloop en Kilinda in handdoeke toegedraai en lappe in haar wonde gesit. Ons het toe hospitaal toe gejaag.” Die baba het wonde aan een van haar arms, oral op haar lyfie en agter een van haar bene. Sy het ook ’n skraap in die gesig. “Sy was Vrydag in die teater in die Mediclinic Nelspruit waar die dokter haar wonde uitgespoel het,” het Du Buson gesê. Vrydag kon hulle eers sien hoe diep die wonde eintlik is. “Ons is baie dankbaar dat sy eintlik so lig daarvan afgekom het. Dit kon regtig baie erger gewees het.” Kilinda se dreineringspypies is Sondag uitgehaal en sy is Dinsdagmiddag ontslaan. Kilinda gaan nou met spelterapie begin. Die rottweilers gaan nie van kant gemaak word nie. “Albei honde is goed versorg en my vriendin is baie lief vir hulle.” ’n Staatsveearts, dr. De la Rey Brugman, is ontbied na die huis in Witrivier waar die honde ondersoek is vir hondsdolheid, maar hy het bevind dat albei se inentings op datum is. “Daar was ook geen fisieke tekens van hondsdolheid nie,” het hy by navraag gesê.
Posted on: Thu, 17 Jul 2014 13:26:59 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015